Darren gaan op Maandag 3 Julie amptelik op die lug wees. As deel van sy voorbereiding sal daar tot dan elke dag video's op die radiostasie se webtuiste geplaas word waarin bekendes hom touwys maak oor die Kaapse leefstyl.

In die eerste een gesels die medegrapmaker Marc Lottering oor Kaapse taalgebruik en hoe om koesisters te maak.

Dit lyk of Darren en Sherlin alte lekker in die Kaap rondrits! In die tweede video kuier hul met die sanger Chad Saaiman en toer deur St George's winkelsentrum.

Volg Darren se Kaapse vuurdoop soggens tussen ses- en negeuur op KFM. Jy kan ook aanlyn na die radiostasie luister. 

Darren is welbekend. Sedert 2 Augustus 2010 was sy stem op 94.7 Highveld Stereo die waarskuwing dat ’n poetsbakkery aan die kom is. Hy was ook op Jeremy Mansfield se versteekte-kamera-program Laugh Out Loud op M-Net.

Van die mense wat hy al uitgevang het, is die krieketheld Graeme Smith, die swemmer Ryk Neethling, tannie Evita Bezuidenhout (die alter ego van Pieter-Dirk Uys), Brian May van Queen, oudmin. Pik Botha, Schabir Shaik, Kurt Darren en Men in Black se Will Smith. Darren het selfs die aanbieders van ’n ontbytprogram op Australiese radio, Kyle and Jackie O, laat glo hy is Tom Cruise  wat oor sy fliek Valkyrie wil klets.

Hy was ook een van die stemme in Disney se tweede aflewering van die animasiefliek Planes. Darren se karakter is Drip, ’n parmantige klein brandweervoertuig met ’n lastige olielek.

Huisgenoot het met hom en sy medeaanbieder gesels:

Darren Simpson. Foto: Verskaf

Wat is die naam van die nuwe ontbytprogram saam met Sherlin?

KFM Morning Show with Darren and Sherlin.

Waarna kan luisteraars uitsien?
Pret, vermaak en kreatiewe inhoud. Ons wil die Wes-Kaap met 'n lagbui laat wakker skrik. Die program is outentiek en innoverend. Dis gegrond op die ontvlugting waarna ons almal smag; om weg te kom van die nuusopskrifte wat ons elke dag moet lees.

Kaapstad is jou nuwe tuiste. Waarna sien jy die meeste uit hier in die Moederstad?
Sjoe, waar begin ek? Die stad het so baie om te bied. Dis nie net die mooiste stad in Afrika nie; dit is ook een van die bestes in die wêreld om in te woon. Daar is net so baie om hier te doen en hier is heeltemal ander ervarings om te beleef as elders in die land. Ek is baie dankbaar dat ek die geleentheid gekry het om na hierdie wonderlike stad te verhuis.

Ons hoor Sherlin gee jou ’n kitskursus oor die stad. Watter aktiwiteite het jy gedoen en hoe het sy die stad onthul?
Sy was so gaaf. Ons het saam met my vriend Marc Lottering in die Bo-Kaap gekook en nog ander prettige Kaapstadse avonture aangedurf wat ek hierdie week op KFM se sosiale en digitale kanale sal onthul. Volg die #KFMMornings vir nog inligting

Sherlin Barends. Foto: Verskaf

Vertel ons van jou radio-loopbaan.

Gedurende my tweede jaar aan die Universiteit Stellenbosch het ek verlief geraak op radio nadat ek in 2010 by die kampusradiostasie MFM92.6 aangesluit het. Hier het ek my radio-tande vyf jaar  geslyp. In 2015 het ek die kommersiële-radiostasie-bedryf betree. Eers as 'n nuusleser, en die jaar daarna het ek van agt- tot elfuur soggens my eie program aangebied. Nou is ek opgewonde om op 3 Julie amptelik by die KFM-familie se nuwe ontbytprogram aan te sluit.

Jy is nuut by ontbytradio. Hoe beplan jy om die inwoners van Kaapstad die beste wekroep ooit te gee?
Ek is regtig so 'n oggendmens! Ons sal mense deur die verkeer kry en met ’n glimlag op hul gesig werk toe laat ry. Luisteraars sal ook ingelig en met interessante inhoud vermaak word.

Vertel ons van jou verhouding met Darren.
Ek het dadelik van hom gehou. Hy is op en van die lug dieselfde mens: vermaaklik, vriendelik en snaaks. Ek kan nie wag om saam met hom te begin werk nie.

Jy help Darren die stad leer ken. Wat is jou gunstelingplekke en -dinge?
Kaapstad is so 'n wonderlike stad om in te woon en te werk. Ek hou daarvan om buitelugdinge te doen soos om nuwe staproetes te verken. Leeukop is ’n gunsteling. Wanneer ek nie kilojoules brand nie, put ek soveel plesier daaruit om hulle te verteer! Die Moederstad het soveel eetplekke, en ek probeer elke week ’n nuwe een op die proef stel. Yours Truly is een van die plekke wat ek oor en oor besoek. Dit het net so ’n goeie night-time vibe!