Gedink hommeltuigkoors het reeds sy hoogtepunt bereik? Moenie glo nie . . .

Die Letlandse maatskappy Aerones het naamlik ’n moewiese hommeltuig, oftewel drone, aangedryf deur 28 propellers, die lig laat sien om die eerste valskermsprong van dié aard uit te voer.

 

Hul vryvallervriend Ingus Augstkalns is toe teen ’n radiotoring uit. Daar het hy saam met ’n paar helpers op die platform tussen hemel en aarde gewag dat Aerones se loods die tamaai hommeltuig van die grond af laat opstyg.

Met die tuig wat doer bo hul kop hang, het Augstkalns toe die handvatsel van ’n kabel wat aan die middel van die tuig gekoppel is stewig vasgegryp. Eers is hy meer as 300 m verder die lug in gehys . . . voor hy laat los en terug aarde toe gevryval het.

“Fantastiese gevoel . . . Dit is duidelik dat hommeltuie al hoe belangriker in ons daaglikse lewe gaan raak,” sê hy agterna in ’n verklaring.

Sy siening van ’n alledaagse bestaan verskil dalk van die meeste mense s’n. Maar hoe ook al, sy vryvalpelle “oor die wêreld heen sal baie opgewonde wees oor die “nuwe geleenthede” wat hommeltuigspronge kan bied. “Ons lewe in opwindende tye . . .”

Aerones is natuurlik nie ál ouens wat ál kragtiger spesiaal vervaardigde hommeltuie vir alles en nog wat beproef nie.

Teen einde verlede jaar het Freefly Systems byvoorbeeld ’n video uitgereik van ’n branderplankryer wat deur een gesleep word. En die YouTube-held Casey Neistat het sneeuhange in Finland aangedurf op ’n sneeuplank wat deur nog so ’n monster gesleep is.

 

 

Bronne: aerones.comdigitaltrends.com