’n Ligte vliegtuig, ’n 1975 Cessna 310R, het die oggend van 30 Junie pas van die John Wayne-lughawe in Orange County, Kalifornië, opgestyg toe sake liederlik skeefgeloop het.  

Die Cessna se regter-enjin het gestaak. Die vlieënier, Francis Pisano (62), en sy vrou, Janan Pisano (55), het alles in hul vermoë gedoen om met die mank vliegtuig terug te keer na die lughawe, maar dit was tevergeefs.

Hulle het die 405-snelweg wat bekend is as een van die besigste in Amerika, naby die MacArthur-boulevard getref. Die vliegtuig het van die skeiding in die middelbaan weggekaats en teen verskeie voertuie gebots voordat dit aan die brand geslaan het.

Wonder bo wonder het die Pisano-egpaar oorleef. Janan het daarin geslaag om uit die vliegtuig te steier maar Francis het hulp nodig gehad om uit die wrak gehaal te word.

Hulle het altwee rugbeserings opgedoen en moes verskeie operasies ondergaan. Die goeie nuus is dat hulle volkome van die ongeluk gaan herstel.

Minstens vier voertuie is tydens die ongeluk beskadig maar gelukkig is niemand ernstig beseer nie.

Mike Blackstone, eienaar van die Orange County-vliegskool Skky Thrills het gesê dit gebeur uiters selde dat een van dié enjins probleme veroorsaak. “Hulle is koeëlvas en werk 2 000 uur tussen versienings. Katastrofiese stakings gebeur selde.”

Bronne: ocregister.com, foxnews.com, rt.com