Die rowers nader die onderneming ewe nonchalant vanuit verskillende rigtings. ’n Man met ’n baadjie aan staan hand in die broeksak buite. Een van die drie, met ’n ligte pet op sy kop, nader die man en stu hom in die rigting van die ingang. Hy loop ewe gedweë na binne.

Volgende in beeld is ’n man in kamoefleerdrag. Hy benader die ingang versigtig met sy pistool gereed in sy hand. Terselfdertyd kom een van die rowers van binne die winkel na die ingang. Die twee raak byna aan mekaar voor die skote begin klap.

Die rower koes wild en dis onseker of hy getref is. Die res van sy makkers kom haastig nader. Dit is onseker of die een wat ’n sak dra, gewapen is, maar die ander drie is gewis.

Een van hulle skiet ’n skoot; dan lyk dit asof sy vuurwapen weier. Die twee agterosse stoot en stamp teen mekaar in hul haas om by die deur uit te kom.

Die kamera se oogpunt verander. ’n Mens kan sien hoe die rowers rieme neerlê en laat spaander.

Luidens berigte het verskeie van die rowers beserings opgedoen.