Tarryn Lamb, die Blackbyrd-voorsanger, se verskyning in die gewilde plaaslike sepie op kykNet, Suidooster, sorg vir boeiende kykgenot.

Haar karakter, Kim, sukkel die afgelope paar weke om uit haar gewetenlose man, Vernon, se kloue te ontsnap. Dan koekeloer Kupido nog boonop vir haar en Siya.

Maar bitter min kon jou voorberei op die drama wat in Maandagaand se storielyn gaan opduik. Daar's 'n kinkel in die kabel - en dis 'n skokkende een boonop.

Eers sien kykers hoe ’n woedende Vernon vir Kim ’n stemboodskap los waarin hy haar dreig. In 'n latere toneel daag Siya by sy woonstel op nadat hy 'n angsvolle oproep van Kim ontvang het. 'n Verdwaasde Siya tref 'n gewonde en bebloede Vernon daar aan.

Dit wil egter voorkom asof Kim sou verkies dat haar aaklige man eerder op die plek dood bloei.

Siya is ’n dokter en hy begin dadelik noodhulp op Vernon toepas terwyl ’n geskokte Kim toekyk. Siya vra haar herhaaldelik om 'n ambulans te ontbied. Dit wil egter voorkom asof Kim sou verkies dat haar aaklige man eerder op die plek dood bloei.

Volgens die vervaardigers van Suidooster sal kykers eers Dinsdagaand duidelikheid oor Vernon se toestand kry: gaan hy in die hospitaal of in die graf beland? 

Daar is nog 'n paar kwelvrae. Hoe het Vernon byvoorbeeld uitgevind waar Kim haarself bevind? En hoe het sy daarin geslaag om Siya se pistool in die hande te kry?

Dit is egter glo nie ‘n glips dat dié tergende vrae nie in Maandagaand se episode beantwoord word nie. Die vervaardigers sê kykers sal meer duidelikheid oor die afloop van die gebeure in daaropvolgende episodes kry.

Die ander vraag is of die polisie vir Kim gaan aankla van ’n misdaad of gaan Siya dalk verantwoordelikheid vir dit neem?   

Die rol van Siya word deur Gantane Kusch vertolk, terwyl die akteur Benedikt Sebastian ‘n gasverskyning as Vernon maak.