“’n Derde verdagte is Sondag in hegtenis geneem,” het sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, gesê.

Twee ander is Saterdag in hegtenis geneem ná ’n dramatiese gejaag in beeldmateriaal wat News24 verkry het, wat wys hoe ’n blou-en-wit Golf deur ’n hek bars en later in ’n veld agtergelaat word met ’n groep mans wat daarvan weghardloop.

Hannah en ’n vriend is Saterdagoggend in die vroeë oggendure aangeval toe hulle in ’n blou-en-wit geparkeerde Golf in Birdstraat, Stellenbosch, gesels het, berig Netwerk24.

’n Man gewapen met ’n skroewedraaier het die passassiersdeur agter die bestuurder oopgemaak en vir Hannah gedwing tot op die agtersitplek. Nog drie mans het glo by hulle aangesluit en Hannah se vriend, wie se identiteit nog nie bekendgemaak is nie, is in die kattebak toegesluit.

Hy is met bakstene geslaan, maar het dit reggekry om uit die kattebak te spring, oor ’n muur te spring en by ’n nabygeleë huis om hulp te gaan aanklop.

Hannah Cornelius (Foto: Facebook)

Hannah se liggaam is Saterdagoggend langs Knorhoekweg, Stellenbosch, gevind.

Haar vriend is hospitaal toe geneem vir behandeling.

Rwexana het gesê die drie verdagtes sal in die Stellenbosse landdroshof verskyn op voorlopige aanklagte van motorkaping terwyl die ondersoek nog aan die gang is.

Bron: News24