Hilary van Rooyen (53) is op 9 Mei deur een van haar seuns gevind waar sy op die vloer in die huis gelê het. Sy is skynbaar met ’n potplanthouer doodgeslaan.

Reghard Groenewald (23) het Woensdag in die Bellville-landdroshof verskyn in verband met die moord. Hy is glo een van Hilary se seuns se vriende, het Netwerk24 berig.

Die huldeblykvideo bestaan uit foto’s van ’n laggende Hilary, wat saam met haar gesin vakansie hou. Daar is ook foto’s van haar saam met vriende en sommer alle-daagse foto’s by die huis.

“Jy is nie meer hier nie, maar dankie vir al die sagte dinge wat jy agterlaat in ons huise, in ons gedagtes en in ons harte,” lees ’n boodskap aan die einde van die video.

’n Facebookblad wat ter herinnering aan Hilary oopgemaak is, getuig ook van ’n liefdevolle ma en vrou.

Hilary se man, Derick, het op dié blad ’n gedig deur Dave Hedges gedeel.

Vriende en familie het op die blad boodskappe van troos en bemoediging met mekaar gedeel.

“Vir ewig in ons hart,” staan by ’n foto van Hilary geskryf.

Daar is aanvanklik gedink sy het ’n inbreker in haar huis betrap, maar die gemeenskapskoerant TygerBurger het vroeër berig dat twee vuil koffiekoppies op die kombuiskas gevind is. Dit word ook ondersoek.

Videomateriaal van ’n nabygeleë sekerheidskamera het glo ’n persoon vasgelê wat die erf omstreeks 11:00 binnegegaan het en sowat ’n uur later weer verlaat.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, sê ’n moordsaak word ondersoek.

Sy het bygevoeg die verdagte is op 23 Mei in hegtenis geneem.

Die verdagte is 24 Mei op borgtog van R3 000 vrygelaat en moes sy paspoort inhandig. Hy mag ook nie met staatsgetuies in verbinding tree nie.

Die saak is tot 7 Julie uitgestel.