[caption id="attachment_174129" align="alignnone" width="600"]Foto: Skermgreep/ Youtube Foto: Skermgreep/ Youtube[/caption]

’n Meisie het op die rand van ’n dok in Steveston, ’n kusgemeenskap in Richmond, Kanada, gesit toe ’n seeuleeu haar van agter af gryp en onder die water trek.

Die meisie en haar gesin het kort voor die voorval na die rand van die dok gestap om die dier van nader te beskou en het hom toe broodkrummels begin voer, vertel Michael Fujiwara, ’n inwoner van Vancouver wat die skrikwekkende voorval by die Steveston Fisherman’s Wharf sien afspeel het.

“Hulle het beslis te na aan dit gekom,” vertel Michael, wat die meisie se nagmerrie-ervaring op sy selfoonkamera vasgevang het. Dit het intussen soos ’n veldbrand aanlyn versprei en is al meer as 7 miljoen keer op YouTube gekyk.

In die video kan jy aanvanklik mense hoor lag en die seeleeu sien voer. Op ’n kol spring dit op na die meisie, maar dit lyk byna na ’n vriendelike gebaar.

Dan, wanneer sy op die rand gaan sit, gebeur die ondenkbare. Hy spring weer op, gryp die meisie aan haar rok, en trek haar onder die water in.

’n Man, vermoedelik ’n lid van die gesin, spring dan agterna in die water voor omstanders hom en die meisie uit die water trek. Die gesin stap dan doodluiters weg sonder om veel te sê.

Kyk die skok-video hier:

Die meisie en man is ongedeerd, het Bob Baziuk, bestuurder van die Steveston Haweowerheid aan CNN gesê. Hulle waarsku mense al jare lank om nie die diere te voer nie, vertel hy. “Dis nie Sea World nie; dis ’n plek waar jy vis koop. As jy die diere voer, soek jy moeilikheid.”

Die gesin was roekeloos, meen Robert Kiesman, voorsitter van dié haweowerheid. Hy sê die talle waarskuwingstekens by die gewilde toeriste-bestemming waarsku mense om nie die seeleeus te voer nie.

“Jy gaan nie na ’n grysbeer en gee hom ’n hamtoebroodjie nie. Jy moet dus nie ’n duisend pond wilde soogdier in die water snye brood gee nie,” sê Robert.

“En jy laat beslis nie jou klein dogter toe om op die rand van die dok te sit met haar rok wat na die seeleeu afhang nie - en dit nadat hy reeds een keer na haar gehap het. Dit is roekelose gedrag.”

Bronne: Edition.cnn.com, Cbc.ca, Youtube.