Dinsdagoggend het ’n protesoptrede aan KwaZulu-Natal se noordkus ’n nare kinkel bygekry toe stakers laaigraaf-trekkers ingespan het om hul ontevredenheid te kenne te gee.

Dié groot trekkers, toegerus met laaigrawe, het talle polisievoertuie verpletter. Metaalrelings is ook met oënskynlike minagting vernietig.

Die situasie by die hawe-ingang in Newarkstraat op Richardsbaai is uiters gespanne. Inwoners word aangeraai om die gebied te vermy. Van die werknemers in die omgewing is ook veiligheidshalwe huis toe gestuur, berig die Zululand Observer. Volgens News24 gaan die protesaksie oor ongelukkige werksomstandighede. Van die betogers is in hegtenis geneem en sal van openbare geweld aangekla word, het luitenant-kolonel Thulani Zwane gesê.