Vrydag, 7 April 2017, is ’n dag wat nog vir baie jare lank vir Suid-Afrikaners gaan bybly. Dit was die dag waarop derduisende mense vir een dag lank al hul eie doenighede opsy geskuif het en soos een hande gevat en saamgestaan het vir ’n beter toekoms vir die land.

[caption id="attachment_167931" align="alignnone" width="600"]Foto: Skermgreep. Youtube/Brent Lindeque Foto: Skermgreep. Youtube/Brent Lindeque[/caption]

Dit het vir Brent Lindeque (32), radio-omroeper op Cliff Central só geinspireer dat hy die #PeoplesMarch in Pretoria in ’n video saamgevat het met ’n gepaste liedjie, Step Down van die musiekgroep Rubber Duc.

"Die liedjie van Rubber Duc het heeltyd in my kop gespeel toe ek gister by die betoging was. Ek het besluit om die inspirerende oomblikke in ’n video saam te vat om net vir mense te wys hoe ons land saamstaan.

"Die #PeoplesMarch het twee dinge gedoen; alle Suid-Afrikaners het saam gestaan om die land ’n beter plek te maak en tweedens het dit ’n nuwe baken van hoop vir ons gegee," vertel Brent.

Alhoewel die Rubber Duc-groep omtrent ’n jaar gelede dié liedjie geskryf het, het hulle besluit om dit weer op hulle sosiale media te plaas ná pres.Jacob Zuma se kabinetskommelinge verlede week.

"Ons het nie die liedjie geskryf om vir pres.Zuma te na te kom nie, ons het dit geskryf om vir die land nuwe hoop te gee. Ons wou hê mense moet ’n bietjie debateer.

"Ons sal nie vir altyd op een plek vasgevang wees nie, dit sal beter raak," vertel Nick Jordaan, een van die lede van Rubber Duc.

"Hoop is een van die belangrikste aspekte in die wêreld. Hoop kan berge verskuif," sê Brent.

Kyk die video hier: