Sofia Magerko was ’n model en skoonheidskoningin in Oekraïne. Haar vriendin, Dasha Medvedeva (24) het op pad na die hospitaal beswyk.

Die video begin met die twee wat in hul BMW sit, die musiek word harder gedraai en daar’s ’n groen bottel in Sofia se hand. In alle waarskynlikheid bevat dit alkohol.

Die jillende plesierigheid maak plek vir angsbevange gille.

Luidens berigte vertel die meisies hoeveel hulle die lewe geniet.

Hulle flirteer voort met die kamera en daar word giggelend weggetrek. Die giggels ontaard in jillende plesierigheid terwyl hulle teen ’n hoë spoed ry.

Dan begin die motor om heen en weer oor die pad te swenk. Die jillende plesierigheid maak plek vir angsbevange gille.

Die kamera tol en dit word donker. 'n Onaardse geluid volg - die oomblik toe die voertuig ’n lamppaal tref. Doodse stilte. En voetstappe wat nader kom. Mansstemme kan gehoor word. Een swets.

Dit sou hulle wees wat die nooddienste ontbied. Maar vir die twee mooi meisies was dit te laat.

Luidens berigte het Sofia in die motor gesterf. Dasha is uit die voertuig geslinger.

Waarskuwing: Die video mag sensitiewe lesers ontstel

Dronkbestuur in Suid-Afrika

In 2015 het Wandile Dumakude, 'n regskenner by Lipco Law for All gesê 65 persent van ongelukke op die land se paaie te wyte aan dronk bestuurders.

Om baie water en sterk swart koffie te drink of ’n koue stort te neem sal min doen om die alkoholvlak in jou bloed te verminder.

Vroeër vanjaar het die gewese minister van vervoer, Dipuo Peters, opslae verwek toe hy gesê het die vonnise vir dronkbestuur is straks te lig en dat bestuurders wat ongelukke veroorsaak terwyl hulle onder die invloed van drank is, net soos “moordenaars en verkragters” behandel moet word.

Regtens mag bestuurders net 0,05 g alkohol per 100 ml bloed hê. Bestuurders mag as ’n reël net een eenheid alkohol per uur drink. Om baie water en sterk swart koffie te drink, ’n koue stort te neem of enige ander nugterword-wenke te beproef sal min doen om die alkoholvlak in jou bloed te verminder.

As ’n bestuurder skuldig bevind word aan dronkbestuur, kan hy ses jaar tronkstraf of ’n boete van R120 000 kry.

Hoe weet jy wanneer jy genoeg gedrink het?

  • ’n Wynglas van 250 ml is sowat 3,3 eenhede, ’n bier is 1,25 eenhede en 25 ml whiskey of brandewyn is een eenheid.
  • ’n Skemerkelkie en ’n sopie kan enige iets van 2 tot 4 eenhede per drankie bevat.
  • As ’n bestuurder skuldig bevind word aan dronkbestuur, kan hy ses jaar tronkstraf of ’n boete van R120 000 kry, sowel as ’n opgeskorte rybewys en ’n misdaadrekord.

Wat om te doen wanneer jy vir dronkbestuur afgetrek word

  • Bly kalm: Moenie inhegtenisneming weerstaan of gewelddadig raak nie. Jy wil nie jou kans op borgtog verminder nie.
  • Jy het die reg om met waardigheid behandel te word en jy mag swyg. Luister aandagtig wanneer jou regte voorgelees word. Jy moet jou volle naam aan die polisiebeampte verstrek. Jy het die reg om iemand te bel, hetsy familielid, vriend of regshulp.
  • Jy mag nie weier om ’n bloedmonster te gee nie.
  • Die distriksgeneesheer, verpleegster of mediese amptenaar by die gevangenis sal binne twee uur ná jou inhegtenisneming ’n bloedmonster neem en aan die staatslaboratorium gee vir toetse.
  • Volg die opdragte van die offisier wat jou in hegtenis neem.
  • Die kans is goed dat jy in die polisiekantoor gehou sal word tot jy weer nugter is en jy kan met ’n waarskuwing vrygelaat word en verplig word om binne 48 uur in ’n hof te verskyn. Jy kan ook oornag toegesluit word.
  • Afhangende van die polisiestasie se jurisdiksie, kan borg van R500 toegestaan word.
  • Maak seker dat jy die besonderhede en naam van die polisiekantoor waar jy gehou word, die saaknommer en die naam van die ondersoekbeampte kry. Jou regsverteenwoordiger gaan dié besonderhede nodig hê.
  • Daar sal nie beslag gelê word op jou motor nie. Dit sal gekonfiskeer en by die polisiekantoor gehou word.

Bronne: enca.com , wheels24.co.zanews.com.au, dailymail.co.uk, santiagotimes.cl