Dit was immers ’n ernstige saak waaroor hy verslag vanuit Boesan in Suid-Korea sou doen: die vervolging van die land se president, Park Geun-hye.

Terwyl Robert die proses as ’n triomf vir demokrasie beskryf, gaan die deur agter hom oop. ’n Kleuter kom ewe vrolik binnegewals met arms wat oordrewe geswaai word, vasberade om langs hom te kom staan en ook deel van die gesprek te wees.

Hy probeer kliphard om sy selfbeheersing te handhaaf, maar selfs ’n onsubtiele swaai van die arm om die kleinding uit die oog van die kamera te skuif, faal liederlik.

Dis egter nie die einde van sy dilemma nie. Volgende by die deur in is ’n ewe vasberade baba in ’n loopring wat ook na Robert koers kies.

Dis egter die paniekbevange optrede van die derde persoon wat by die deur inskaats, wat die kroon op een van die snaaksste regstreekse onderhoude ooit span. Die arme vrou gly-skaats-duik die kantoor binne en probeer gebukkend en inderhaas om altwee die rakkers weer uit die kantoor te kry. Dit bly ’n blapsbelaaide komedie – want selfs die loopring gee teen die einde probleme toe dit aan die deur vashaak. Die laaste sien is die vrou, op haar knieë buite die deur wat met alle mag na die deurknop strek om weer Robert se privaatheid te herstel.

Twitter se reaksie