Min het die sewejarige Keagan Rossouw geweet wat op hom wag toe hy Vrydag 18 November in Vanderbijlpark agter die mikrofoon ingeskuif het.

Hy begin vol selfvertroue Die Hemel Weet sing. Skielik word ’n ander stem gehoor en Keagan is vir ’n kort oomblik geheel en al verdwaas. Dan sien hy waar dit vandaan kom: sy held in lewende lywe – Manie Jackson!

Die oorstelpte Keagan gooi sy armpies om Manie se nek en die twee voltooi die liedjie. En soos 'n wafferse professionele sanger wat hy is, herwin Keagan weer sy balans en sing voort. Die gehoor gaan mal.

Volgens sy Facebook-profiel is Keagan afkomstig van Rustenburg. Hy is met Fanconi Anemia gebore. Selfs nie geslote oorkanale keer hom om sy musikale passie met absolute oorgawe uit te leef nie. Een ding is duidelik: musiek bruis deur sy are en elke sel wat Keagan so merkwaardig maak!

Danksy ’n spesifieke gehoorstuk wat aan sy skedel geanker is (BAHA: Bone Anchored Hearing Aid) kan hy klank klokhelder hoor. Dié is sy eerste liedjie en hy hoop om teen die einde van die jaar ’n album uit te reik.