Dit is laatmiddag op die perseel van die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal in Pretoria.

Die donker mure van die hoofgebou wat in 1892 gebou is, lyk ekstra mistroostig toe die son agter die reënwolke verdwyn.

[caption id="attachment_169567" align="aligncenter" width="600"]Foto: Christo Doherty Die buite-aansig van die psigiatriese hospitaal. Foto: Christo Doherty[/caption]

[caption id="attachment_169569" align="aligncenter" width="600"]Die liriese-sopraan leef haar in die stemming in. Foto: Christo Doherty Die liriese-sopraan leef haar in die stemming in. Foto: Christo Doherty[/caption]

Sy dra ’n wye rok in ’n styl wat van dekades gelede dateer. Haar oë gly oor die leë saal voor haar toe sy op die vloer gaan sit. Sy trek haar asem diep in. Dan ontsnap die eerste note van die wiegeliedjie Siembamba uit haar keel.

Haar liriese-sopraanstem weergalm deur die leë, skemer vertrek.

[caption id="attachment_169568" align="aligncenter" width="600"]Pauline sing Siembamba. Foto: Christo Doherty Pauline sing Siembamba. Foto: Christo Doherty[/caption]

Dit klink soos ’n toneel uit ’n rillerfliek, maar eintlik was dit net deel van die kunstenaar Pauline Theart se klankkunsprojek.

“Die projek is deel van ’n reeks klank-ingrypings in geboue en ruimtes deur Suid-Afrika,” verduidelik Pauline ná die tyd. “Ek sing Afrikaanse wiegeliedjies in plekke wat as kulturele bakens beskou word.”

Die klank, wat in verskillende plekke opgeneem word by elke plek, sal later tydens ’n “klanktentoonstelling” aan die publiek gespeel word.

Pauline vertel sy het die liedjie Siembamba herhaaldelik gesing as ’n dialoog tussen die gebou se akoestiek en haar stem.

“Soms het die verse aaneengeloop en by tye was daar stiltes waarin die gebou terug reageer het,” vertel sy.

Haar stem het deur die gange van die hospitaal beweeg en inwoners en pasiënte kon haar tot diep in die hart van die destydse “Krankzinniggengestich” hoor.