Karlien het op Instagram ’n video gedeel waarin haar hare nou net-net onder haar skouers hang. Sy het daarby onthul sy het haar kuif geskeer, maar wil dit nou weer langer hê.

Ons is mal oor haar korter kapsel, en haar aanhangers voel duidelik dieselfde. "Ek hou van jou hare! (Ek bedoel die lengte, daai kuifie is ’n ander storie)," het die aktrise en oud-7de Laner Christi Panagio laat hoor. Ander is net so versot op haar nuwe voorkoms. "Love die natural korter hare," het nog een laat hoor.

Kyk hier na die video waarin Karlien met ’n korter kapsel pryk:

Karlien (31), wat tans swanger is met haar en haar man, die oudrugbyspeler Joe Breytenbach (33), se eersteling, deel gereeld kiekies van haar groeiende babamagie. Die paartjie het vroeër vanjaar stil-stil afgehaak. Sy het ook ’n driejarige tweeling, Eliah en Daniël, by haar eksman, die oud-Springbok Derick Hougaard.

Die popprinses het onlangs die musiekvideo vir haar liedjie Dans in die Reën geskiet. Dit word op 15 Julie op die televisieprogram Jukebox op kykNET NOU! bekendgestel, bevestig haar ma en bestuurder, Ronel Brink.