Die man, ene mnr. Cheng, van Henan in China, verkoop onder meer sykouse. Hy het besluit om die daad by die woord te voer en te wys hoe “supergoed” daardie einste sykouse is.

Sy agtjarige seun het ’n af naweek gehad en dis net waar die man ’n briljante ingewing gekry het. Die videokamera is nadergetrek en in sy dogter se hande geprop. Die seun is aangesê om die sykouse aan te trek.

Maar Cheng se idee het nie daar opgehou nie. Hy het besef hy kan sy seun maklik optel - deur aan die sykouse vas te hou.

Die resultaat?

Seun + sykous + woeste geskud = ’n sterk produk wat selfs die uiterste toets met vlieënde vaandels slaag.

“Dis regtig moeilik om deesdae sake te doen. Die video is gemaak om klante te oortuig dat ons produkte regtig van goeie gehalte is,” het hy gesê.

Dit is onseker of hy rekordverkope behaal het nadat die video die lig gesien het, maar dit is al meer as 55 000 keer gekyk sedert People’s Daily dit op hul Facebook-blad gedeel het.