Toe Zion Harvey net twee jaar oud was, het hy ’n lewensgevaarlike ontsteking opgedoen wat daartoe gelei het dat dokters sy hande moes afsit.

In sy eie woorde: “Toe ek twee was, is my hande afgesny, want ek was siek.”

As gevolg daarvan kon hy hom nie behoorlik aantrek of was of self sy kos sny nie, sê sy ma, Pattie.

Maar in 2015 het hy op agt jaar die jongste mens geword wat ’n dubbele handoorplanting suksesvol ondergaan het. En 18 maande later doen Zion al daardie alledaagse takies en meer.

Die ingewikkelde operasie het in Julie 2015 by die Philadelphia-kinderhospitaal plaasgevind toe ’n geskikte skenker van sy ouderdom beskikbaar geword het.

Tydens die operasie van 10 uur en 40 minute het vier mediese spanne die senuwees, bloedvate en tendons van die skenker op Zion se voorarms oorgeplant. 

Zion het ’n dubbele handoorplanting ontvang. Foto: YouTube

Binne dae ná die operasie kon Zion sy vingers met die hulp van sy ander ledemate beweeg. Kort daarna het hy met daaglikse arbeidsterapie begin van onder meer videospeletjies speel, oefeninge met vingerligte en -poppe, en dag-tot-dag-take soos skryf en ’n mes en vurk gebruik.

En sy harde werk het vrugte afgewerp! Zion kan nou sy oorgeplante hande beweeg asook aan voorwerpe voel en raak. Hy het ook sy ma se wens vervul en sy eie kos sonder hulp begin sny.

Toe dokters hom vra wat hy die graagste wil doen nadat hy herstel het, het Zion gesê hy wil net bofbal speel.

En 18 maande ná sy operasie kan Zion reeds ’n bofbalkolf soos ’n gesoute speler vashou en swaai.

“Sy brein kommunikeer met sy hande,” het die hoofchirurg, dr. Scott Levin, verlede jaar van sy pasiënt gesê. “Sy brein sê vir sy hande om te beweeg en hulle beweeg. En dit alleen is merkwaardig.”