Intussen knaag die diepe onsekerheid aan die familie en vriende van Rania Ibrahim (30) of sy en haar twee dogtertjies dalk wel danksy ’n wonderwerk die brand oorleef het.

Rania het Woensdagoggend om 02:38 ’n ontstellende video op Facebook Live gedeel. Sy was op die 23ste verdieping van Grenfell Tower, saam met talle ander vasgekeer.

In die agtergrond kan gehoor word hoe mense aan deure hamer om waarskynlik die rook te onstnap

’n Kalm vrouestem kan gehoor word wat haar vermaan om nie die voordeur oop te maak nie. Dis om te verhoed dat die rook binnekom en dit moeilik gaan maak om asem te haal.

“Luister, jy het jou kinders. Dit gaan nie help om naby die deur te staan nie, die rook gaan jou tref,” gaan die vrou voort.

Rania prewel ’n gebed. Op die agtergrond kan ’n mens hoor hoe mense aan deure hamer om waarskynlik van die rook weg te kom.

Ons is vasgekeer op die 23ste vloer. Daar’s te veel mense wat binne vasgekeer is,

Sy maak die deur oop en roep na dié in die gang. Sy hamer aan haar eie deur om hul aandag te trek en sê hulle moet inkom. Twee mans, waarvan een ’n bejaarde is, kom binne. Die tweede sê sy moet die deur toemaak, want die rook kom in.


“Daar’s nog iemand buite,” sê sy. Sy word egter ontmoedig om weer uit te gaan.

Sy beweeg na die balkon en neem die toneel buite af. Sy gaan weer na binne. Haar stem weerspieël die angs en onsekerheid wat sy ervaar.

“Ons is vasgekeer op die 23ste vloer. Daar’s te veel mense wat binne vasgekeer is,” skree ’n vrou naby haar, waarskynlik in ’n desperate poging om die reddingspanne se aandag te trek. Onder loei die sirenes. Die roep om hulp raak meer desperaat.

Dan Rania se laaste gebed wat gehoor word: “Vergewe my, almal. Totsiens!”

Omstreeks drieuur die oggend het Rania haar laaste Snapchat-video aan haar vriendin, Yaz (van onbekend), gestuur.

Rania, van Egiptiese afkoms, het ekonomie en politieke wetenskap studeer. Volgens haar Instagram-profiel het sy ook ’n regsgraad (L.L.B.) aan die regsfakulteit van die universiteit van Kaïro behaal.

Nog geen inligting oor Rania en haar dogtertjies, Fathia (5) en Hania (3), is ontvang nie. En die hoop raak al hoe skraler.

Waarskuwing: Video kan sensitiewe lesers ontstel.

In dié video kan gesien word hoe iemand desperaat iets rondswaai terwyl hulpkrete gehoor word.

Mohammed Alhajali (23), ’n student in siviele ingenieurswese, is die eerste slagoffer wat uitgeken is. Hy was ’n vlugteling uit Sirië wat in ’n woonstel op die 14de vloer gebly het.

Elpidio Bonifacio, ’n gedeeltelik blinde man in sy 70’s, is van die 11de vloer gered nadat hy deur ’n venster gewaar is. Elpidio het ’n trui rondgeswaai en so die aandag van die reddingspanne getrek. Hy word in ’n waakeenheid behandel.

Natasha Elcock (39) was saam met haar lewensmaat en sesjarige dogter op die 11de vloer van die woonstelblok. Sy sê die deur was te warm om aan te raak. Toe oorstroom sy doelbewus haar badkamer om die woonstel klam te maak. Hulle het weldra daarin geslaag om uit die woonstel te kom.

Lucy Masoud van die Fire Brigades-vakbond sê die brand het binne agt minute van die vierde tot 18de vloer van die woonstelblok versprei.

Die eerste liggame word uit die woonstelblok verwyder. Die polisie het reeds aangedui dat van die liggame wat gevind mag word, dalk nooit uitgeken sal word nie. Die soektog na liggame mag weke, selfs maande duur.

Bykomende bronne: bbc.com, itv.com, nypost.com

SaveSaveSave