’n Man is dood toe hy van die City York-gebou in die middestad van Johannesburg afgespring het om aan die brand te ontsnap, sê nooddienste. 

Dit is onduidelik van watter verdieping die man afgespring het, het Nana Radebe, woordvoerder van Johannesburg-nooddienste, aan News24 gesê. 

Sy sê nog vier mense, wat op die dak van die gebou vasgekeer was, is gered. 

Die brandweer het ’n leer gebruik om die mense van die dak af te haal, het Radebe gesê. 

Sy het gesê die brand is onder beheer gebring en die nooddienste ondersoek die gebou om te verseker alle inwoners is na veiligheid gebring. 

Geen ander beserings is aangemeld nie. 

Die oorsaak van die brand is nog onbekend. 

Bron: News24