Hy dra geen veiligheidsgordel nie, jaag met ’n hoë spoed en om die kroon te span: Met sy selfoon in die hand maak hy ’n Facebook-video van homself. Boonop is sy rybewys ten tyde van sy jaagtog opgeskort. Die musiek blêr oorverdowend terwyl Onasi Olio-Rojas by tye teen 186 km per uur deur die verkeer op Roete 6 in Providence, Rhode Island in Amerika jaag. Tussen die dawerende musiek deur kan gehoor word hoe hy jillend tekere gaan wanneer hy sy selfoon se kamera so draai dat hy die motor se spoedmeter afneem. Maar hy misreken hom sleg met ’n vulliswa. En sy jaagtog eindig toe hy die vragmotor van agter tref voor sy eie motor oor drie verkeersbane skiet en teen ’n betonmuur tot stilstand kom. Die pad was besaai met wrakstukke, luidsprekers en laebasluidsprekers (“subwoofers”).

Luidens berigte is die vragmotorbestuurder nie beseer nie. Verkeer is egter twee uur lank vertraag terwyl reddingspanne Onasi uit sy motorwrak moes sny.
Onasi is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.

Die polisie oorweeg klagtes van roekelose bestuur, spoedoortreding en ook vir die bestuur met ’n opgeskorte rybewys. Waarskuwing: Kru taal.

Maar dis nie die eerste keer dat Onasi in ’n groot botsing betrokke is nie. In Februarie vanjaar het hy geringe beserings opgedoen toe hy teen ’n ander motor bots. Hy is ook al aangekeer vir sy aggressiewe bestuurstyl en dat hy teksboodskappe stuur terwyl hy bestuur.

Bronne: bbc.com, salon.com, nbcnews.com