Daar was hulle onafskeidbaar; beste maats, tot hulle getroud is. Nou, by die De Rust-oord in Durbanville, buite Kaapstad, sien hulle mekaar weer elke dag soos in die sorgvrye tyd as kinders daar in die Karoo.

Hoe voel dit om oor drie jaar honderd te word? “Ag, nee,” sê hulle byna gelyktydig. Ons geniet maar die tyd,” sê tannie Anna Schelhase. Haar mooi silwer hare is effe anders in ’n bolla agter haar kop vasgemaak as dié van haar tweelingsuster, tannie Elise Malan. So kan ons hulle darem uitken hier by vanmiddag se kuiertjie. Maar op die foto’s van hulle as kinders was hulle nog meer identies as nou.

“My ma sou soms ’n rosie aan een van ons se klere vassteek sodat dit makliker vir mense was om ons uitmekaar te ken,” onthou Elise die tyd toe hulle nooientjies Du Plessis was. “Ons het naby Colesberg gebly, maar die dorp nie sommer gesien nie. Ons sou eerder De Aar toe gaan.”

Daar is foto’s van die plaas toe hulle ’n paar jaar gelede daar gaan kuier het. Dit is deesdae ’n jagplaas. In ’n skildery wat Anna se skoonseun, David Morkel, van die plaasopstal geverf het, loop twee meisies hand aan hand in wit rokkies met die stofpad langs.

“Oe, dis ’n mooi wêreld daai. Ons het net mekaar gehad en was beste maats. Soos nou nog,” vertel Elise.

“Ons het so ’n mooi tuin op die plaas gehad,” vertel Elise. “Appels, pere, perskebome . . .” En dan maak Anna die sin klaar: “En aarbeie. En ’n groentetuin.”

’n Skildery van die merino-plaas Leeuwberg, waar Anna en Elise grootgeword het. Anna se skoonseun, David Morkel, het dit geskilder. Foto: Gys Visser

Tannie Anna se gedagtes dwaal so af en toe, maar as sy herinnerings oproep, is hulle net so helder soos haar tweelingsussie s’n.

Soos wat soms met tweelinge gebeur, voel hulle psigies verbind al is hulle honderde kilometers van mekaar weg. Anna het saam met haar man in Milnerton en Vredehoek gewoon gebly en Elise op Riversdal.

“Toe ons swanger was, kon ons aanvoel as die ander een in kraam moet gaan,” vertel Elise. Hul ma het hulle graag dieselfde aangetrek. En nou hier in die oord trek hulle ook eenders aan.

“Maar ons het dit darem nie gedoen toe ons as getroudes apart gebly het nie,” vertel tannie Elise. Daar was nie oproepe soggens of aanvoelings van wat die ander een uit die klerekas neem om aan te trek nie.

Anna is sedert 1997 in De Rust nadat haar man, Conrad Johann, oorlede is. Elise woon sedert 2002 hier nadat sy haar man, Gerhardus, verloor het.

Dorris Hoffman, oppasser by die De Rust-oord, vertel sy was reeds hier toe die twee tannies hier onder een dak herenig is. Sy het hulle saam in die eetsaal hoor sing. “Daar was dadelik ’n konneksie,” vertel Dorris.

Die tweelingsussies Anna Schelhase en Elise Malan het Donderdag albei 97 geword. Foto: Gys Visser

Toe hulle ’n bietjie gesels, kom hulle agter Dorris se ma, Elizabeth Hoffman, het destyds 20 jaar vir hul ouers op die plaas gewerk. Die Du Plessis’s was bekendes op die dorp, veral vir hul musiek en sang.

Hulle gaan as hulle die kans kry na kooruitvoerings en klassiekemusiekkonserte. Hulle luister graag operaplate as tannie Anna by haar sus op die onderste verdieping gaan kuier. Sy oefen nou om uit Mendelssohn se Elijah te sing, vertel Elaine Johnson, hul versorger, en haal die bladmusiek uit ’n laai uit.

Sy sing in die Libertas-koor. Anna sit graag en luister hoe Elaine oefen. “Dit is deel van hoe ons ons dag geniet,” vertel Elaine.

Hul dag verloop gewoonlik so: Eenuur eet hulle in die eetsaal onder. Dan gaan rus hulle ’n bietjie. Halfvier drink hulle tee en speel Scrabble of kyk die National Geographic-kanaal op DStv.

Die laaste ruk het hulle graag Wimbledon gekyk. As skoolmeisies was hulle kranige tennisspelers. Dit is daardie gereelde oefening en die gesonde plaaslewe wat hulle beskou as een van die geheime van hul lang lewe.

Hoeveel kleinkinders het hulle? “O, nee, ons het nog nie getel nie,” roep tannie Anna uit. Sy vertel wel sy het drie pragtige dogters en een seun: Leona Norman (70), Ilse Koeslag (65), Erna van Heerden (60) en Carl Franz Schelhase (71). Elise het drie dogters: Theresa Conradie (67), Laurentia Barnard (70) en Annelise Steenkamp (62).

Wat sou die pragtige, silwer tweeling graag vir die jong klomp van vandag wou sê? Het hulle raad? “Praat meer met mekaar,” sê Tannie Elise. “Moenie so heeltyd op jul [selfone] wees nie . . . Die tyd gaan vinnig verby . . .”

“Dit was nou lekker om te gesels,” sê tannie Elise toe ons by die woonstel uitstap . . . Of wag, was dit tannie Anna? Hopelik kuier ons gou weer, voor daardie honderd kersies op hul verjaardagkoek brand.