Êrens op aarde is ’n meisie wat wel graag tyd saam met haar speelmaat, Cher, deurbring. Sy is oënskynlik gek daaroor om op die rusbank voor die televisie uit te span terwyl Cher, vernoem na die bekende sangeres, luilekker uitgestrek saam met haar op die bank rus.

En “uitgestrek” is waarskynlik die beste manier om Cher te beskryf. Sy is immers ’n albino-luislang van ongeveer 3,6  lank en die bank is kwalik groot genoeg om haar lenige lyf te akkommodeer.

Wat dink Cher van die hele bohaai? Dit is onseker of daardie groot gaap wat sy in 'n stadium gee ’n aanduiding van verveeldheid of volslae ontspanning is.

Terloops, boonop hou Cher soos enige ware dame glo van ’n borrelbad. En haar mens-maatjie is alte gretig om daardie geel vel van haar baie mooi af te droog.

Slange as sodanig is nie vreemde speelmaats vir haar nie. Haar ma het in 2016, toe sy net drie jaar oud was, ’n video gedeel waar die “slang-fluisteraar” geen ag slaan op die 2,4 m lange troetelslang se regop houding nie.

Inteendeel, sy hou aan om met haar pers dinosourus op sy lyf te speel en die oomblik eindig in ’n tere omhelsing. Of sal dit in dié geval ’n omhel-slang genoem word?

Die dogtertjie se naam, asook waar sy woon, is onbekend.

Haar ma, wat die video's op haar YouTube-kanaal onder die naam Edness Taoka deel, sê slange is allesbehalwe bloeddorstige monsters.

“Hulle word verkeerd uitgebeeld in die media en dit lei tot paniek en paranoia.”

Die videogreep is al meer as 9,4 miljoen keer op LADbible se Facebook-blad en 151 448 keer op Edness Taoka se YouTube-kanaal gekyk.