Dit is genoeg om enige ouer se hart te breek. Jy berei jou voor op twee pienkvoete, maar wanneer die babas gebore word, is hulle ’n Siamese tweeling.

’n Ma van die Gasa-streek in Palestina het Dinsdag deur middel van ’n keisersnee geboorte geskenk aan dié Siamese tweeling. Twee dogtertjie-koppe, maar net een lyf, berig Reuters.

Volgens Mirror het die dogtertjies omstreeks 11:00 die oggend die lewenslig aanskou. Hulle is die eerste Siamese tweeling in baie jare in Ma’an, die stad waar hulle gebore is.

Mirror skryf dat die babas twee koppe, twee harte, twee longe, twee rugstringe, twee hande, twee arms en twee bene het. Verskeie ander media berig die babas het net een hart.

Volgens Reuters is dié dogtertjies van die nek af ondertoe vas aanmekaar. Beeldmateriaal wys hoe die twee in die broeikas sukkel om asem te haal. Hul bors beweeg vinnig op en af soos die hart werk om bloed te pomp.

Die dogtertjies, tot dusver nog naamloos, is in die waaksaal van die Al Shifa-hospitaal in Gasastad.

Hanan Al-Wade, ’n pediater by dié hospitaal, het aan Reuters gesê hulle het eers gedink die dogtertjies is ’n tweeling. Volgens hom is chirurge in gesprekke om al die mediese opsies te bespreek.

Die eerste vraag is of die twee dogtertjies geskei kan word. Sou die dokters besluit om te opereer, is dit onduidelik of hulle dit in Al Shifa gaan doen. Die babas sal waarskynlik na ’n hospitaal in Israel of oorsee oorgeplaas word.

“Om hulle te skei is baie moeilik, want hulle deel so baie organe. Daarby is hul hart defektief,” het Hanan aan Reuters gesê.

Volgens Fox News is Siamese tweelinge baie seldsaam en gebeur dit een keer uit elke 200 000 geboortes. Net tussen vyf en 25 persent van babas wat as Siamese tweelinge gebore word, oorleef. Sowat 70% van alle Siamese tweelinge is meisies.

Bronne: Reuters, Fox News, 9news, Jerusalem Post, Mirror