Christine Stone van Florence, Suid-Carolina, se ma ly aan Alzheimers.

Toe Christine uitvind sy is swanger, moes sy die nuus meer as een keer aan haar ma, Setsuko Harmon, oordra. Haar ma se korttermyngeheue is deur die siekte aangetas.

Sy het later besluit om haar ma se reaksie op te neem elke keer wanneer sy vir haar die nuus vertel.

“Ek geniet dit om vir my ma te sê ek is swanger, want sy is elke keer opnuut opgewonde daaroor. Ek kan vir haar vertel ek is swanger en twee minute later dit weer vir haar vertel. Haar reaksie is elke keer dieselfde. Dit is elke keer pure opgewondenheid.

“My dogter sal eendag die video kyk en sien haar ouma was baie opgewonde oor haar koms.”