’n Hartroerende video het die oomblik vasgevang toe die drie maande oue baba met gedeeltelike sig sy ma vir die heel eerste keer sien toe ’n nuwe bril vir hom opgesit word. 

Everett, van die Amerikaanse deelstaat Iowa, ly aan okulokutane albinisme – ’n afwyking wat voorkom wanneer daar ’n gebrek aan melanienpigment in jou vel, hare en oë is.

Mense met dié siekte het dikwels sigprobleme en is uiters sensitief vir lig. 

Everett se ouers het besef iets skort met hul baba toe hulle sien hy sukkel om oogkontak te maak en kan nie hul bewegings volg nie. 

Gelukkig kan die skattige kleinding se sigprobleme reggestel word met ’n spesiale bril. Hy dra dit vir die eerste keer op die videogreep wat wyd en syd op die internet versprei word. 

Baba met seldsame sigafwyking sien sy ma vir die eerste keer. Foto: YouTube

Die pragtige beeldmateriaal wys hoe baba Everett sukkel om sy bril op te hou. Maar danksy ’n helpende hand van sy ma, wie se naam onbekend is, kom hy gou agter hoe dit werk. 

En die glimlag wat hy op sy gesig kry toe hy sy ma se gesig sien, is ongelooflik. 

Die vreugde in Everett se ma se stem is duidelik hoorbaar op die video terwyl hy tog te oulik vir sy ma glimlag.

Everett se ouers het besluit om die inspirerende greep te deel om bewustheid oor die seldsame siekte te bevorder – en te wys wat ’n groot verskil ’n bril kan maak. 

“Dit is ’n seldsame afwyking wat blykbaar misverstaan word en nie algemeen bekend is nie, maar mense met albinisme kan enigiets doen wat almal anders kan doen,” het die seuntjie se ouers aan Daily Mail gesê.

Bronne: mirror.co.uk,huffingtonpost.co.uk, Daily Mail