“Fluffy”, soos hy gedoop is, het Maandag op Sydney se Manly-strand uitgespoel met geringe beserings aan sy mond, maag en stert.

Personeel by die Manly Sea Life Sanctuary het herhaaldelik probeer om die beseerde vis van 1,5 m terug in die see te kry, maar dit het aanhou terugkeer na die kus.

Die span, wat desperaat was om jong Fluffy weer in die see te kry, het die haai in ’n draagband gesit en na ’n nabye rotspoel gedra om sy gesondheid te evalueer terwyl ’n groep opgewonde strandgangers toegekyk het.

Mense was meer as bereid om uit die poel te klim en te kyk hoe Fluffy ’n paar uur lank in die Fairy Bower-rotspoel by Manly-strand rondplas.

Fluffy is later na die Manly Sea Life Sanctuary geneem, waar hy oornag gemonitor is en volgens kenners goed herstel het.

Fluffy was net langer as 24 uur nadat hy uitgespoel het, terug in die see en is dieselfde dag sowat 4 km van die Sydney-kus vrygelaat.

“Hierdie grootwithaaie beweeg gewoonlik verder weg van die kus, in die dieper, oop water,” het Robbie McCraken van die Manly Sea Life Sanctuary gesê.

“Dié een het om watter rede ook al die pad na Manly se strande gekry en toe in die branderplankgebied beland, waar dit in ’n bietjie moeilikheid beland het. Dis waar ons kon ingryp.”

McCracken het bygevoeg dis “uiters seldsaam” dat ’n haai homself laat uitspoel.

Bronne: The Sydney Morning Herald, Sky News, The Guardian