Stella se debuut solo-album, Nuwe Môre, het vroeër vanjaar die rakke getref

Nou maak haar man, Johan, sy debuut in die splinternuwe musiekvideo vir haar liedjie Deur die Liefde en die Seer. Die liedjie is “vir al die paartjies wat klippe kou”, het sy al vertel.

Die video is ’n moet-sien, sê die sangeres en liedjieskrywer wat in Welkom grootgeword het. “Dit is dalk ’n bietjie onverwags. Ek het nog nooit so ’n konsep-video gemaak nie. Om eerlik te wees, was ek uit my gemaksone.

“Dit is vol simboliek van ’n huwelik wat soos ’n huis is wat uitmekaarval. Ek simboliseer die eggenoot wat vassit by waar alles verkeerd gegaan het. Jy sien later my ‘gees’ wat eintlik wil regmaak en weer ‘leef’, opstaan uit my lyf en saam veg vir my hart,” vertel Stella, wat ook boervrou is op ’n plaas op Carolina.

Haar man, Johan, speel die held wat haar red. Die paartjie het ’n 11 maande oue babadogtertjie, Ellie.

Stella is g’n groentjie in die bedryf nie. Sy is deel van die gospelgroep Duis:Lig, wat twee jaar gelede en vanjaar ’n Ghoema vir beste gospel-album gewen het. Hulle het ook al twee Huisgenoot Tempo-pryse ingeoes.

Dit is vir haar besonders om deel te wees van die groep. “Ons kry die geleentheid om intieme oomblikke met God te fasiliteer deur in kerke landwyd te loof,” vertel sy. “Ek verruil dit vir niks ter wêreld nie. Dis ook wonderlik om deel te wees van ’n span mense in wie se hart dieselfde passie leef.”

Kyk Stella se nuwe musiekvideo hier:

Bronne: Centurian Rekord