Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy deur ’n uitsmyter by sy nagklub ’n sluipmoordenaar gehuur het om sy vrou, Jayde, op 21 April 2015 te laat vermoor.

Volgens The Herald is die geheime opname in ’n motor met meeluisterapparaat gedoen by die Algoa Park Steers enkele dae nadat Jayde doodgeskiet is. 

In die video sê Panayiotou aan Siyoni aangesien geen besittings gesteel is soos beplan is nie, lyk “dit” nou soos “ ’n sluipmoord” en nie ’n rooftog nie. 

“Ek het vir jou gesê om hulle dit buite die huis te laat doen en die sakke en ringe te vat - en toe vat hulle nie die horlosie of enigiets nie,” kan ’n mens Jayde se man hoor sê.

“Hulle het alles net daar gelos, jy sien, so dit lyk nou soos ’n sluipmoord. So hulle is agter my aan.”

Die video vorm nou deel van die bewyse voor die hof.

Die staat en verdediging het verskeie weke lank oor die toelaatbaarheid van die geheime opname geredeneer. Die verdediging het beweer Siyoni is deur die polisie gemartel en gedwing om sy voormalige werkgewer te laat inkrimineer. Hulle beweer die video kom uit ’n lokval wat die polisie vir Panayiotou gestel het.

Kyk die video hier: