Maar hierdie seuntjie het nog nooit enige van dié geluide gehoor nie. 

Die tweejarige Kanon Newsome is doof gebore en sensorineurale bilaterale gehoorverlies is by hom gediagnoseer.

Albei sy ouers het onwetend die geen daarvoor gedra. 

“Dit was verpletterend,” sê Kanon se ma, Lindsey. “Dit het gevoel asof ons wêreld in duie stort. Dit was die laaste ding wat ons verwag het.”

Op vyf maande is Kanon na oudioloë verwys wat hom met gehoorapparate probeer help het. 

Maar ongelukkig het dit nie gehelp nie.

Dis toe dat Kanon se desperate ma en pa, Justin, hom na Children’s Healthcare of Atlanta neem. Daar het kundiges voorgestel hy kry kogleêre inplantings. 

Kogleêre inplantings is elektroniese toestelle wat die werking van die beskadigde oor vervang deur klankseine na die brein te stuur. 

Toe Kanon 19 maande oud was, het hy ’n vier uur lange operasie ondergaan sodat sy inplantings eindelik ingesit kon word. 

En nou toon ’n hartroerende videogreep hoe klein Kanon sy ma die eerste keer “ek is lief vir jou” hoor sê nadat sy regteroor-inplanting aangeskakel is. 

“My hart het baie vinnig geklop, want my baba was op die punt om vir die eerste keer te hoor,” sê Lindsey.

Aanvanklik het Kanon ’n bietjie verward en geskok gelyk oor wat aangaan, maar toe hy alles eers uitpluis, het hy vinnig en breed vir sy verheugde ma geglimlag. 

“Eers was dit ’n biepgeluid, maar toe kry ek en sy pappa die kans om te sê: ‘Haai Kanon, ons is lief vir jou.’ En hy het dit vir die eerste keer gehoor,” sê Lindsey oorstelp.

Drie maande later is sy tweede inplanting geaktiveer.

En nou dans die knapie tog te lekker op die maat van sy ouers se ou bluesplate. 

“Hy is dol op stadige bluesmusiek. Hy maak sy oë toe en dans net daarop,” sê Lindsey gelukkig.

Hy kry ook terapie om hom te leer praat.

“Om vir Kanon die kogleêre inplantings te kry, was die beste besluit van my lewe,” sê Lindsey.

Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk