’n Mens hoor net “mmm” en “oeee”, vertel haar ma, Tanya, van dié ongelooflike dag wat eindelik aangebreek het.

Selfs by die huis maak Samantha (9) en haar boetie, Corban (10), se kleinsus, Micyla (2), saam oeee en mmm. Micyla is die enigste een in die Venter-huishouding wat kan sien en hoor. Ma Tanya en pa Johan is albei blind en Samantha en Corban is doof.

Samantha en Corban het op 6 Maart albei kogleêre inplantings gekry danksy “baie baklei en sukkel” en die hulp van die Stigting vir Kinders met gehoorverlies. Die inplantings is vanoggend by die Eduplex Oudiologie en Spraakterapie-departement in Queenswood, Pretoria, aangeskakel. Eers was dit Samantha en toe was Corban aan die beurt.

Tanya kon nie haar kinders se gesig sien toe hulle die eerste keer hul eie stem hoor nie, maar almal het vir haar gesê die glimlag op hul gesig was groot.

“Ek was naby trane. Dit is net ’n ongelooflike gevoel om te hoor as jou kind die eerste keer kan hoor,” sê Tanya.

Sy sê toe Samantha die eerste keer haar eie stem hoor, was sy “so opgewonde”.

“Sy het begin mmm-geluidjies maak en het nog nie opgehou nie. Dit is vir haar net die wonderlikste ding op aarde.”

Corban, die ouboet, was in beheer van die situasie en kalm toe die inplanting aangeskakel is.

Hy het deur die jare geleer om ’n paar woorde te sê en kan onder meer sy eie naam sê. Samantha sukkel nog om haar eie naam te sê omdat sy juis met die s-klank sukkel.

“Die woorde gaan nog jare neem vir hulle. Hulle is soos babas wat vir die eerste keer kan hoor. Hulle moet nou leer om te luister en gewoond te raak om te luister.”

Al is dit nog ’n “groot deurmekaarspul” noudat almal in die Venter-huis kan hoor, is almal baie opgewonde oor dié dag waarvoor hulle al jare wag.

Met die skoolvakansie wat vandag begin het, gaan in dié huis lekker gespeel en geluidjies gemaak word, sê Tanya.

“Dit gaan ’n nuwe wêreld vir ons wees.”