Die voorval is Sondag op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgevang toe ’n huis in Noordkruin, Krugersdorp, deurgeloop het. Die Krugersdorp News het die video vandag gedeel.

’n Donkerkleurige Mazda staan in die oprit voor die motorhek parkeer asof daar gewag word op die hek om oop te gaan. ’n Man drentel ongeërg na die deur wat deel is van die hek vorm.

Daarna loop hy verskeie kere heen en weer tussen die motor en die hek voordat hy by die passasierskant van die motor terugklim.

Kort voor lank klim hy en sy makker aan die linkerkant van die motor uit – met voorwerpe in hul hande. Dit wil voorkom asof een van hulle ’n koevoet in die hand en die ander ’n pik sonder ’n steel in die hand het. . .

Die deur staan nie ’n kans nie. Op die kameraskerm dui die tyd aan: 10:55:16

Hul eens-ongeërgde houding verdwyn soos mis voor die son toe die twee die deur met mag oopforseer en hulle die perseel binnehardloop.

Dan word dit boonop duidelik dat daar minstens drie mense by hierdie “inkoopsessie sonder toestemming” betrokke is.

Die bestuurder van die Mazda sit die motor en tru-rat en herposisioneer dit só dat die linkerkant van die motor aan die motorhek se kant is. Hy klim uit en maak die kattebak oop sodat sy twee makkers die groot televisiestelle met gemak kan inlaai. Binne enkele sekondes vertrek die span met hul buit. Al wat nou sigbaar is, is die verfrommelde hek. Die tyd: 10:56:57.

Volgens die Krugersdorp News was hierdie nie die enigste inbraak in die omgewing nie. Verdagtes wat met ’n wit VW Golf 3 ry was glo ongeveer dieselfde tyd ook betrokke by ’n inbraak in Waterford-straat, Kenmare. ’n Derde inbraak is in Sneeuberg-laan, Krugersdorp aangemeld en nog twee inbrake by Wilrogate en Roodekrans onderskeidelik.

Luidens berigte is daar nog geen verdagtes vir enige van die inbrake in hegtenis geneem nie.