’n Video van ’n reuse-kobra wat by ’n man se huis inseil, het op Facebook versprei.

In die video, wat Derrick YiFan van Maleisië opgelaai het, seil die slang deur ‘n hoop rommel en steek van tyd tot tyd sy kop uit.

“Ek het gedink dis iets wat net in wetenskapfiksie gebeur!” het Derrick geskryf. “Ek kan nie glo ek het daardie groot slang met my eie oë gesien nie! Die video is op 18 Junie omstreeks 16:00 by Batu Pahat geneem.  Ek het ’n geluid buite gehoor en toe ek uitgaan, sien ek die groot slang. Die deur was toe.”

Hy sê daar was gelukkig niemand in die  huis toe die slang inseil nie. Hy het dadelik nooddienste ontbied.

Maar toe hulle opdaag om die slang te verwyder, was dit nêrens te vinde.

Derrick het op Facebook geskryf: “Bomba het na die toneel gekom en dit nie opgespoor nie. Dis waarskynlik by die agtervenster uit. Nou is dit nog steeds vreesaanjaend. Ek weet nie wanneer die draak gaan terugkeer nie.”

Die video is meer as 4,5 miljoen keer gedeel sedert dit op Facebook gelaai is. 

Die video is nie vir sensitiewe kykers nie: