Die seun van Wes-Java, Indonesië, het oral ter wêreld die hoofopskrifte gehaal as die swaarste eenjarige ter wêreld. Hy het na bewering vyf maaltye per dag verorber en vyf bruisdrankies gedrink.

Soos hy grootgeword het, het die situasie vererger tot hy later nie kon loop en nie meer kon skoolgaan nie. Arya, wat uit ’n arm gesin kom, moes noodgedwonge later ’n sarong dra omdat sy ouers nie meer klere kon vind wat hom pas nie.

Arya was ook te groot om in die huis te bad, dus moes hy buite in ’n koue swembad bad. Hy was ook kortasem en moes met sy kop hoog slaap sodat hy makliker kon asemhaal.

Sy ouers het eindelik tot die besef gekom dat hulle hom te veel kos gee en toe probeer hulle om hom net bruinrys te gee om te eet sodat hy minder gewig kon aansit.

“Die blaam lê hoofsaaklik by my,” het sy ma, mev. Soemantri, verklaar in ’n dokumentêr oor sy lewe: World’s Heaviest Child: Extraordinary People.

“Ek is jammer daaroor, want dis my skuld. Ek het nie sy kosinname beheer nie. Ek hou aan om Arya kos te gee, want ek is lief vir my kind.”

Arya is tans die jongste mens wat ’n gastriese mou-operasie ondergaan het en dit het hom tot dusver gehelp om 37 kg af te skud.

Dokters het Arya se geval as een van die moeilikste gevalle van vetsug ter wêreld beskryf. Sedert die operasie glo hulle hy kan tot 100 kg oor die volgende 12 maande afskud indien hy volhou met sy dieet en oefenplan.

Arya het, ná dit alles, net een droom vir die dag wanneer hy van sy oortollige gewig ontslae is.

“Ek gaan saam met my vriende in die swembad speel, sokker speel en fietsry,” het hy hoopvol verklaar.

Kyk hier na sy video:

Bronne: Daily mail, ECR, Telegraph UK.