Op die beeldmateriaal wat ’n sekuriteitskamera in Anreith-straat Sondag opgeneem het, stoei die jong vrou langs die pad met die dief – terwyl ’n veiligheidswag daar naby toekyk.

Intelligence Bureau SA het die video op Facebook gedeel.

“Die straatwag is minder as 15m weg, kyk alles, maar doen niks nie! Ons was nog nooit ’n voorstander van straatwagte nie tensy hulle behoorlik opgelei en ooreenkomstig toegerus word. Ons hoop daardie straatwagte is gekwalifiseerd en geregistreerd,” skryf hulle.

Volgens News24 het die meisie van Northcliff Square, waar sy werk, na ’n vriend se huis gestap.

Die kringtelevisiebeeldmateriaal wys ’n rooi VW Polo hou langs haar stil en ’n man klim uit en vra haar rigtingaanwysings.

Hy gryp later na haar.

Hulle worstel minder as ’n minuut voor die aanvaller haar teen die grond vasdruk en met haar selfoon wegkom.

’n Familielid van die tiener se vriend het aan News24 gesê sy het die straatwag ’n paar meter van haar raakgesien en gehoop hy kom help haar.

Sy is getraumatiseerd, maar ongedeerd, het die familielid bygvoeg.

Die wag is sedertdien geskors en ’n saak is by die Linden-polisiekantoor geopen.

Bronne: News24, The Citizen, IntelligenceBureauSA