Adv. Terry Price was warm onder die kraag tydens sy ondervraging van sers. Mcedi Gcukumana, veral oor sy notas. Hy het gesê Mcedi kon nie sy boek met notas inhandig nie, want daar was niks daarin geskryf nie.

Mcedi het gesê hy het sy verklaring neergeskryf op grond van wat hy kon onthou. Price het weer verwys na die bewering dat Luthando Siyoni deur die polisie aangerand is.

Luit.-kol. Audrey Till, waarnemende bevelvoerder, is ook vandag as getuie geroep. Haar verklaring is in April vanjaar ontvang. Sy het gesê sy het geen beserings aan Luthando gesien nie. Dit het ook gelyk asof hy gewillig was om saam te werk.

Sy was teenwoordig toe Christopher deur kapt. Kanna Swanepoel in hegtenis geneem is. Christopher het glo geweier om enigiets te onderteken. Tydens hul besoek aan sy huis (met sy toestemming) het hulle artikels gevind wat na die polisiekantoor geneem sou word. ’n Selfoon is in Christopher se motor gevind. Dit was in die deur se rak.

Ao. Shane Bosch het die selfoon gekonfiskeer. Onder kruisverhoor deur Price het Audrey bevestig sy het geen beserings aan Luthando gewaar nie. Sy het hom as fiks en netjies beskryf.

In Audrey se dagboek is geen inskrywing gedoen oor Christopher se weiering om enigiets te onderteken nie. Sy kon ook nie onthou waaroor Christopher en sy pa daardie dag gepraat het nie.

Die hof het tot Vrydagoggend om negeuur verdaag.

Vroeër vandag

Christopher Panayiotou word verhoor as die vermeende baasbrein agter die ontvoering van en moord op sy vrou, Jayde, in April 2015. Sy medebeskuldigdes is Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko.
Adv. Terry Price, vir Christopher, het sy ontevredenheid uitgespreek oor nuwe dokumente wat opgeduik het wat deur hom as irrelevant vir die saak beskou word. Hy het ook aangedui die Panayiotou-familie is ongelukkig omdat die saak lank sloer.

Ao. Berney Kleingeld het getuig hy het op 15 April 2015 met Luthando Siyoni gepraat en ’n foto van hom geneem. Luthando is die beweerde middelman wat glo deur Christopher versoek is om ’n huurmoordenaar vir sy vrou, Jayde, te vind. Destyds is beweer Luthando is aangerand. Op die foto wat in die hof vertoon is, lyk dit asof sy linkeroog opgeswel is.

Christopher Panayiotou: Tien goed wat jy moet weet

Die volgende getuie wat geroep word, is sers. Mcedi Gcukamana. Hy het in 2015 by die Mount Road-polisiekantoor se kapingseenheid gewerk. Hy ontken dat Luthando deur die polisie aangerand of gedreig is. Volgens sy getuienis was Luthando geboei en het hy op ’n stoel gesit.

Daar was glo ’n onderonsie toe die polisie gesukkel het om Luthando te boei, maar hy het nie beserings opgedoen nie.