Maar danksy James Thorpe se veggees en deursettingsvermoë en sy aanstaande, Michaela Watson, se liefdevolle steun, mik die paartjie nou weer aanstaande maand kansel toe.

Die 29-jarige brandweerman van Boston, Engeland, is verlede Junie amper dood in ’n fratsongeluk tydens ’n ramparty-uitstappie na die Spaanse eiland Majorka.

En ná weke in die waakeenheid het dokters oop kaarte met hom gespeel: Hy is van sy bors af ondertoe verlam en waarskynlik vir goed die gebruik van sy bene kwyt.

Maar James was vasbeslote dat hy self voor die kansel sou kon staan wanneer hy en Michaela, 33, op 14 Julie hul liefde aan mekaar betoon.

En, ná maande van intensiewe rehabilitasie, lyk dit asof hy danksy hope wilskrag die ‘onmoontlike’ gaan vermag. Hy sal ten minste lank genoeg orent kan staan om trou aan die liefde van sy lewe te beloof.

Hulle haak volgende maand af in die skilderagtige Belvoir-kasteel in Leicestershire.

James het ’n jaar gelede sy nek en sewe rugwerwels gebreek toe hy, skaars twee uur ná sy aankoms in Mallorca, oor iets onder die wateroppervlak struikel en die seebodem met sy kop tref.

Hy was eers twee weke lank  in ’n kritieke toestand in ’n waakeenheid in Palma de Mallorca. Die fratsongeluk het “alles geaffekteer, my asemhaling, liggaamstemperatuur, ek het om my lewe geveg,” het hy oor sy aanvanklike stryd vertel.

Die dokters se diagnose het hom verpletter, het die sportiewe, avontuurlustige James erken. “Ek was verpletter. Ek het geweet my lewe sou heeltemal verander. Ek sou nie meer die werk kon doen waarvoor ek so lief is nie.”

Maar nadat hy ’n ruk lank aan sy hospitaalbed gekluister was, het hy weer geleidelik sy krag begin opbou. Kundige hulp het ’n groot rol gespeel, maar ook pure vasbyt en hope geduld.

“En waar ek omtrent 11 maande gelede moes verneem ek sou waarskynlik nie weer loop of staan nie, kan ek ná baie fisioterapie nou staan en (wel met hulp) ’n paar treë gee.

“Ek sal graag op ons troudag wil loop, maar dink nie dit sal gebeur nie. My hoofmikpunt in dié stadium is om tydens die seremonie te kan staan en my beloftes te maak.”

En Michaela het onlangs vertel: “James het ’n spesialis gaan sien, en sy goeie vordering het dié laat dink hy het eintlik twee jaar gelede sy ongeluk gehad.”

Sonder die mense wat hul hart oopgemaak het, insluitend brandweerlede wat selfs boksgevegte gereël het om geld in te samel, sou hy dalk nie so goed gevorder het nie, reken die paartjie.

So kon hy gespesialiseerde fisioterapie ontvang, waarin byvoorbeeld ’n soort robotiese pak ingespan is, wat hul nasionale gesondheidstelsel nie dek nie.

“En die moontlikheid vir verdere verbetering bestaan beslis. Ons moet net gefokus bly. Ek is so trots op hom,” het sy laat hoor.

“Ja, dis vreeslik wat gebeur het, maar dit kon erger gewees het,” reken James. “En ek kyk nou vooruit na die toekoms. Ek kan nie wag om met Michaela te trou nie.”

Bronne: justgiving.com, bostonstandard.co.uk, dailymail.co.uk, edp24.co.uk, Facebook