Meeste mense sal die hasepad kies as hulle ’n haai in vlakwater naby die strand gewaar, maar een visserman van Jensen in die Amerikaanse deelstaat Florida het besluit om doelbewus na een van die diere te hardloop in ’n poging om dit te red.

’n Video het onlangs aan die lig gekom waarin die visserman, wie se naam nie bekend is nie, hardloop om ’n swarttiphaai (Carcharhinus limbatus) te red wat tussen die vlak branders in ’n vislyn verstrengel geraak het.

Kyk hier na die voorval:

National Geographic berig drie vissermanne was op die strand besig om blouvis te vang toe hulle die haai in die vlak water sien spartel.

"Ons het agtergekom hy was verstrengel in iets en het nader gehardloop om te sien of ons kon help," het Colin Baker, wat die video geneem het, gesê. "Ons het die vislyn van sy lyf afgehaal en die vishoek uit sy mond gehaal."

Van die vissersmanne moes die haai teen die sand vaspen sodat een die vishoek uit sy mond kon sny met ’n tang. Die ontstelde dier is kort daarna weer see-in getrek waarna dit vinnig weggeswem het, skynbaar ongedeërd.

Buiten aan die Amerikaanse kus kom die swarttiphaai ook algemeen voor aan die suid- en ooskus van Afrika vanaf Valsbaai. In Engels staan die haai bekend as die blacktip shark.

Bykomende bronne: National Geographic, Wikipedia