Die brand het kort voor vier Donderdagoggend uitgebreek. Die vlamme het 10 van die 12 motors heeltemal in skrootmetaal omskep. Twee is deur die vlamme en brandweerskuim beskadig.

Die skade word voorlopig op R16,15 miljoen geraam. Gelukkig kon die 38 brandweerbeamptes op die toneel verhoed dat selfs meer luukse motors in die slag bly.

Die polisie stel ondersoek in om te bepaal of die brand dalk doelbewus gestig is deur betogers teen die G20-byeenkoms.

“Ons vermoed daar is n verband tussen die G20-byeenkoms en die (vermoedelike) brandstigting, maar dit moet eers bewys word,” het Ralf Martin Meyer, Hamburg se polisiehoof, gesê.

Wat is die G20-byeenkoms?

Dit word ook die Groep van Twintig genoem, ’n internasionale forum vir regerings van 20 lande wat ekonomies sterk is.

Vanjaar se byeenkoms vind van 7 tot 8 Julie in Hamburg plaas.

Dit is die 12de G20-byeenkoms.

Welkom in die Hel

  • Die groep wat hoofsaaklik vir die betogings verantwoordelik is, doen dit onder die vaandel Welkom in die Hel, ’n internasionale teenkapitalistiese betoging teen die G20-byeenkoms.
  • Die betoging word aangevuur deur anargiste en teenkapitalistiese aktiviste wat gekant is teen globalisering.
  • Derduisende betogers word vanaf vandag in die stad verwag terwyl Donald Trump en Wladimir Poetin saam met mede-êreldleiers die G20 bywoon.
  • Duisende betogers, aangetrek soos zombies, het Donderdag stadig deur die strate van Hamburg beweeg.


  • Catalina Lopez, een van die organiseerders, het gesê hulle wil graag deur hul optrede tot mense se hart spreek en hulle motiveer om weer polities betrokke te raak.
  • Die polisie moes Woensdagaand reeds waterkanonne teen sowat 500 oproerige betogers inspan.
  • Die Duitse owerheid het hul kommer uitgespreek oor nog moontlike geweld wat mag uitbreek tydens die betogingsoptrede.
  • Na verwagting sal 20 000 polisielede aan diens wees tydens die byeenkoms.


Bronne: rt.com, express.co.uk, abcnews.go.com, g20tohell.blackblogs.org