Haar volle naam is Maria Garduno-Martinez. Sy's 33 jaar oud. In die vrye omgang staan sy as Isabel Martinez bekend en luidens berigte is sy 'n onwettige immigrant wat Amerika vanuit Mexiko binnegekom het.

Sy is ook die ma en vrou wat vier van haar kinders en haar man na bewering Donderdagoggend in Loganville naby Atlanta doodgesteek het.

Martinez het self die polisie in die vroeë oggendure ontbied nadat sy luidens berigte byna haar hele gesin uitgewis het.

Een kind, Diana (9), het oorleef.

Haar sibbe Isabella Martinez (10), Dacota Romero (7), Dillan Romero (4) en Axel Romero (2) asook hul pa, Martin Romero (33), het die hoogste prys betaal. Die motief vir hierdie gru-daad wat deur 'n vrou gepleeg is wie se bure haar as 'n "gawe en liefdevolle ma" beskryf, is nog nie bekend nie.

Terwyl die gesinsmoord alleen voldoende was om mense verstom te laat, sou dit Martinez se optrede in die hof wees wat tot algehele verbystering lei.

Die vrou, wat deur vyf aanklagte van kwaadwillige moord, moord en ses van ernstige aanranding in die gesig staar, openbaar die vreemdste gedrag.

Sy glimlag vir die kamera, vou haar hande saam in wat moontlik 'n gebedsgebaar kan wees, staan op haar knieë en sprei haar arms wyd uit. Die glimlag wyk selde.

Sy weier regsverteenwoordiging en sê in Spaans deur middel van 'n tolk aan regter Michael Thorpe haar mense en haar geloof sal altyd haar regspan wees. 

Deurentyd geniet haar interaksie met die kamera die meeste van haar aandag tot waar sy met beide hande, duim in die lug, aan dui dat alles in orde is . . .

Bronne: wsbtv.com, foxnews.com, time.com