Facebook-gebruikers het hul ontsteltenis uitgespreek omdat die leeus doodgeskiet en nie verdoof is om hulle na die wildtuin terug te neem nie.

Sheryn Nader van Barberton het met Isak van Rensburg gesels. Hy is die boer wat die eerste leeu Woensdagaand doodgeskiet en die tweede gekwes het.

Isak, wat hom as “’n bewaarder in murg en been” beskryf, betreur die feit dat die leeus geskiet moes word. Hy sê egter die leeus se teenwoordigheid is as lewensgevaarlik ervaar omdat die diere sowat 400 m van huise af was.

Maar hoekom is die leeus nie verdoof nie?

’n Woordvoerder vir Mpumalanga toerisme-en-parke-agentskap verduidelik die stadige spoed waarteen ’n doofpyl trek wanneer op ’n dier gemik word, verhoog die risiko van defleksie deur selfs ’n takkie.

Die gekweste leeu en sy oorlewende makker het hulle in baie digte bosse bevind toe hulle Donderdag vanuit die lug gewaar is.

Die kans was baie skraal om hulle met ’n doofpyl raak te siet. Hy sê ook ’n gekweste leeu is ’n baie gevaarlike en onvoorspelbare dier; daarom is besluit om hulle van kant te maak.