Vir enigiemand is ’n liefdesteleurstelling ’n groot slag. Maar as die mens vir wie jy jou hart gegee het, jou met iemand anders verkul, is dit nog seerder.

[caption id="attachment_166303" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/ Suzzi Swanepoel Foto: Facebook/ Suzzi Swanepoel[/caption]

Die Sterlopers-aktrise en sangeres Suzzi Swanepoel het self deur so ’n moeilike tyd gegaan. Sy het egter nie in ’n hoekie gaan sit en krepeer nie. Sy het besluit om daaroor te skryf en te sing.

Suzzi is weer in Mei in Binnelanders as dr. Desire Eksteen te sien.

Sy het vanjaar haar debuutalbum, Stukkies van My, uitgereik.

“Elke snit op die album is regtig ’n stukkie van my. Dit is outobiografies,” sê die sangeres (32).

In die musiekvideo van haar jongste enkelsnit, Laaste Keer, gee Suzzi vir luisteraars ’n intieme kykie in hoe haar verhouding van vier jaar met ’n betrokke man was.

“Dit weerspieël hoe die verhouding was. Hoe ons mekaar se geselskap geniet en koffie saam in die bed gedrink het.”

Die video wys dan hoe sy die man saam met ’n ander vrou betrap.

“Hoewel ek nie self my ekskêrel betrap het nie, het hy my met ’n ander vrou verkul.

“Dit was moeilik, ja. Agterna was ek drie maande lank ’n kluisenaar,” vertel sy.

Dit het Suzzi egter nie ondergekry nie en ’n jaar later het sy haar eerste enkelsnit, Ek Probeer, uitgereik.

“ ’n Mens moet aanhou baklei vir jouself,” sê sy.

“Die teleurstelling is dalk nou moeilik om te verwerk, maar oor vyf jaar kyk ’n mens terug en jy besef hoe ver jy gekom het.”

  • Haar album, Stukkies van My, is landwyd by Musica-winkels, iTunes en Google Play beskikbaar.