Die beeldmateriaal wys hoe klein Sophie Taylor, van South Shields in South Tyneside, Engeland, diep asemteue neem voor sy die pop se neus toedruk om die kus van die lewe te gee.

Ouers by die Daisy First Aid-klas op Sondag 7 Mei giggel in die agtergrond en gee dan uitroepe van verbasing terwyl Sophie die lewensreddende tegniek sorgvuldig uitvoer.

En haar trotse ma, Helen Buchanan (40), sê sy was verstom oor haar wonderlike babadogter se vaardighede.

Helen – wat ook ’n 16-jarige seun, Matthew, het – sê: “Sy het eenvoudig vorentoe gekruip en na die naaste pop gegaan. Sy het klaarblyklik alles ingeneem terwyl ons dit geoefen het.

“Sy is wonderlik. Sy het dit uit haar eie gedoen en op die video kan sy sien hoe goed sy dit doen. Sy knyp selfs die neus toe terwyl sy dit doen en weerhou haar tussen asemteue.

“Sy het nog ’n paar asemteue gegee nadat die video gestop het. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Ek is vreeslik beïndruk. Sy is baie slim.”

Die persoonlike assistent is tans op kraamverlof. Sy sê sy en die ander sewe ouers wat by die noodhulpklas was, het lekker gelag vir Sophie se popdemonstrasie.

Sophie se pa, Colin Taylor (38), ’n tegnikus by ’n motoronderneming, is ook op die beeldmateriaal te sien waar hy geamuseerd sy dogter se demonstrasie dophou.

“Almal in die groep het rondgeval van die lag. Ek wys die video vir almal wat ek sien.

“Ons sê sy is dalk ’n toekomstige paramedikus. Ek dink sy kan een wees. Natuurlik kan sy wees wat sy ook al wil. In my werk is ek taamlik kreatief en dit sal lekker wees as sy ’n bietjie daarvan ook het,” vertel Helen.

Helen en Colin se ouer-en-babagroep, wat uit agt ma’s en pa’s en vier babas bestaan, het ’n noodhulpklas onder leiding van die noodreddingswerker Jill Santonastaso bespreek om meer te leer oor hoe om op noodgevalle voorbereid te wees.

Jill, van Daisy First Aid, sê sy was ook verstom oor Sophie se resussitasie-tegniek, en moes dit eenvoudig op film vaslê.

“Ons het KPR geoefen en ek het pas aanbeweeg na ’n gesprek oor kopbeserings toe Sophie dit ewe skielik begin doen.

“En die tegniek was amper volmaak. Almal was verstom. Die enigste ding wat sy nagelaat het, was om die lugweg ’n bietjie oper te hou. Ek moes eenvoudig ’n video neem en het vir Helen gevra of ek Sophie kon afneem terwyl sy dit doen.

“Terwyl ek klasse aanbied, het ek jong kinders dit al sien probeer, maar nie op agt maande nie. Sy is een van die volgende geslag lewensredders.

“Dit is belangrik om noodhulp van ’n jong ouderdom af normaal te maak. Dit moenie ’n voorreg wees nie. Om noodhulp te ken, moet so bekend wees soos haarkapper of tandarts toe gaan,” vertel Jill (36).

En Helen sê die hele gesin het nou veel meer vertroue in hul noodhulpvaardighede.

“Ek voel nou baie beter oor noodhulp. As jy ’n ouer met ’n jong kind is, kan dit verontrustend wees as jy voel jy weet nie wat om te doen as iets gebeur nie.

“Maar danksy die klas is ons almal nou meer voorbereid,” vertel Helen verder.

Kyk die video hier:

– Magazine Features