Dat sy nou sonder albei voorarms en onderbene, haar neus, die voorste deel van haar mond, haar lippe en ’n gedeelte van haar tong is, kon haar nie keer nie. 

“Dit was wonderlik,” vertel Shan (34) uit Port Elizabeth waar sy by die Nurture Aurora-hospitaal se rehabilitasie-eenheid weer leer om volledig mens te word. Ruan Lundt het Vrydag haar kunsbene kom aanpas ná die amputasies veroorsaak deur sepsisskok en gedissemineerde intravaskulêre stolling.

“Hy het dit gou weer weggevat om ’n paar aanpassings te maak,” voeg sy by. Sy was besig met fisioterapie toe ’n vrou haar bene terugbring. Ruan het gewaarsku sy sal net op haar prosteses kan staan; daar is geen manier dat sy nou al kan loop nie.

“Nee,” het sy beslis gesê. “Ek gaan vandag loop,” en die daad by die woord gevoeg.

“Ek het van die gim af die hele ent tot by my kamer geloop. Én terug. Ons almal was in trane. Dit was onvergeetlik!”

Ruan Lundt pas Shan se kunsbene aan. Foto: Verskaf
Shan stap vir die eerste keer. Foto: Verskaf
Sheninlea en haar pa, David Rogers. Foto: Verskaf

Sy was sedert 23 Maart 2017 al hier in die rehabilitasiesentrum om te leer skryf, op haar eie te sit, self te eet en aan te trek. Sy het reeds 13 operasies en 25 prosedures ondergaan sedert sy in Januarie vanjaar siek geword het.

Haar pa, David Rogers, het die hele ent vanaf Langebaan aan die Weskus na die Baai in die Oos-Kaap gery om sy enigste kind te gaan haal wanneer sy op 7 Julie ontslaan word. “Sy gaan ’n bietjie wegbreek om by my te kom herstel van al haar operasies. Dis nou tot tyd en wyl nog operasies in die toekoms gedoen word,” vertel David, en voeg by hoe trots hy op sy dapper dogter is.

Wat met haar gebeur het, het almal onkant betrap. Maar hoe sy uitstyg bo die traumatiese gebeure, is vir baie mense ’n inspirasie.

Op 5 Januarie het Shan van Durban af in Port Elizabeth opgedaag. Sy het vir ’n vervoeronderneming gewerk en moes help om ’n kantoor in die Baai oop te maak.

Sy het by haar baas tuisgegaan en op 17 Januarie het sy skielik naar geword, opgegooi en in die badkamer haar bewussyn verloor. Die volgende oggend agtuur kon sy nie uit die bed opstaan nie.

Ongeveer halfdrie wou sy gaan water drink, maar sy het tussen die kombuis en eetkamer flou geword. ’n Kollega wat kom kyk het hoe dit gaan, het met haar na die Life St. George-hospitaal gehaas.

“My hande en voete het gevoel asof dit aan die brand is, maar toe die verpleegster daaraan vat, vertel sy dis yskoud."

Twee weke later het dit vir haar gevoel asof sy "uit 'n koma wakker word".

“Welkom terug,” het die dokter gesê. Toe weet sy sy was baie ernstig siek.

Sy kan niks van daardie twee weke in die waakeenheid onthou nie, vertel Shan. David het ’n dagboek gehou om haar te help om die verlore legkaarstukke bymekaar te bring.

“Ons het eers gedink sy het dalk net ’n maagvirus,” onthou David. Maar binne dae het dit duidelik geword sy veg om haar lewe. Haar niere het ophou werk.

“’n Gewone mens het tussen 150 000 en 450 000 bloedplaatjies per mikroliter bloed. Sy het in ’n stadium net 16 000 gehad,” vertel David, ’n afgetrede direkteur van ’n omgewingsrehabilitasiemaatskappy.

Daar was tye in die hospitaal dat hulle gedink het hulle gaan haar verloor. Maar sy het bly veg en oorleef.

“Ek is dalk nou ’n halwe vrou, maar nie in my kop nie.”

Die dokters het aan die begin gedink sy sal moontlik net haar vingerpunte en tone verloor, maar die afsterwing in die weefsel het bly versprei. Hulle het ook die amputasies so lank moontlik uitgestel om te sien of die afsterwing dalk omkeer en begin herstel.

"Hulle wou so min moontlik amputeer," vertel David. “Dit was hartverskeurend om te sien wat met my dogter gebeur. 'n Mens voel so hulpeloos."

'n Hele ruk lank het die verpleegsters haar lyf met beddegoed bedek.

Die 11-jarige Kiaralea by haar ma, Shan, voor al die amputasies. Foto: Verskaf

“Sy kon nie verstaan hoekom sy nie kon doen wat sy voorheen gedoen het nie, dat sy nie kan opstaan nie,” sê David.

’n Paar dae later het hulle besluit om haar te wys hoe haar voete en hande lyk. “Dit was swart,” onthou sy. “Niemand het my vertel van my gesig nie,” voeg sy by – tot iemand laat glip het dat sy plastiese chirurgie aan haar neus en lippe moes kry waar die dooie weefsel weggesny moes word.

“Jy sal albei voete en hande moet verloor of jy gaan dit nie maak nie,” het die dokters prontuit gestel. Ter wille van haar elfjarige dogter het sy gesê: “Doen wat julle moet doen.

“Ek is dalk nou ’n halwe vrou, maar nie in my kop nie.”

Mense wat meer inligting oor Shan soek, kan haar oom Rob Nicholson nader by Robdtm@vodamail.co.za

Sepsis in perspektief:

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van Tygerberg-hospitaal se eenheid vir aansteeklike siektes, beantwoord vrae oor sepsis:

Is dit moontlik om drie weke in 'n koma te wees weens sepsis?
Ja, dit is beslis moontlik. Daar is baie toestande wat aanleiding kan gee tot 'n koma. Toestande wat die brein direk aantas, soos meningitis, enkefalitis en breinbeserings, kan tot 'n verlengde koma lei.

Hoe gebeur dit dat iemand ledemate en selfs lippe en 'n neus verloor weens sepsis? Is dit omdat weefsel weggesny moet word om die bakterieë in die kiem te smoor?
Gangreen (dooie weefsel) kan soms ontwikkel in die tone, vingers en selfs die punt van die neus weens sepsis-komplikasies.

Die hoofrede hiervoor is dat die bloed meer stolbaar raak tydens ernstige sepsis, en dit gee aanleiding tot die ontwikkeling van baie klein bloedklontjies. Hierdie klontjies verstop dan die fynste aartjies wat bloed na die verste punte van die liggaam vervoer. Dit lei tot die afsterwing van die weefsel wat normaalweg deur daardie aartjies bedien word.

Daarby kan 'n mens septiese skok ontwikkel, wat die ergste graad van sepsis is. Skok beteken daar is ‘n kwaai daling in die bloeddruk, wat veroorsaak dat selfs minder bloed na die betrokke gebiede vloei. Die aartjies na nie-essensiële dele van die liggaam gaan in spasma tydens skok en bloed word dan herlei na lewensbelangrike organe, soos die brein, niere, lewer en hart.

'n Deel van die behandeling van erge skok sluit soms medikasie in soortgelyk aan adrenalien om die bloeddruk te verhoog en te keer dat breinskade, nierversaking of lewerversaking plaasvind. Dié medikasie veroorsaak verdere spasma van die aartjies na die vingers en tone, wat ook kan bydra tot vermindering van bloedvloei.

Die wegsny van weefsel is soms nodig as die dooie weefsel ’n groot deel aantas, soos die hele voet, of as daar sekondêre infeksie in die dooie weefsel is, sogenaamde nat gangreen.

Wat is sepsis? Is dit dieselfde as bloedvergiftiging?
Streng gesproke is dit nie ‘n "vergiftiging" nie, maar ‘n infeksie in die bloedstroom wat veroorsaak word deur ‘n kiem, meestal ‘n bakterie soos Streptococcus, Stafilokokkus, E. coli of Klebsiella. Bakterieë skei toksiene en ander skadelike stowwe in die bloedstroom af, en dit lei tot ‘n oorweldigende immuunreaksie deur die liggaam om die infeksie te oorkom. Hierdie "oorlog" of "stryd" in die bloedstroom lei dan tot ‘n kombinasie van simptome en tekens wat ons sepsis noem.

Hoe kan jy sepsis keer terwyl jy in die hospitaal is?
Mense kan sepsis opdoen:

  • In die gemeenskap waar hulle leef, ook bekend as gemeenskapsverworwe sepsis, en dis meestal bakterieë wat sensitief is vir eerste-linie-antibiotika.
  • Ná 48 uur van hospitalisasie, genoem hospitaalverworwe sepsis, en dis meestal weerstandige bakterieë.
    Hospitalisasie word wêreldwyd beskou as een van die riskofaktore vir die ontwikkeling van sepsis omdat baie antibiotika gebruik word en baie ingrypende prosedures uitgevoer word.
  • Waakeenhede het die hoogste risiko en hoe langer jy daar bly, hoe groter raak die risiko. Nog faktore wat bydra, is binneaarse kateters, blaaskateters en enige operasie (hoe groter, hoe hoër die risiko).
  • ‘n Baie belangrike faktor is die handhigiëne van hospitaalwerkers, soos dokters en verpleegsters, en besoekers. Pasiënte dra weerstandige organismes op hul vel en ander oppervlakke, en dit versprei na hul beddens en omliggende strukture. Die WGO beveel aan dat almal hulle hande steriliseer (seep/alkoholjel) voor hulle aan ‘n pasiënt of sy omgewing raak, asook daarna.

Wat is gevaartekens/simptome?
Sepsis gaan gewoonlik gepaard met hoë koors, uitputting, deurmekaarheid en na gelang van waar die hooffokus van die infeksie is, kan jy ook spesifieke simptome ontwikkel, soos hoofpyn en stywe nek (by meningitis/breinvliesontsteking), kortasemheid, hoes, borskaspyn (pneumonie/longontsteking), buikpyn/naarheid en braking (blindedermontsteking) en pynlike urinering, buikpyn, bloed in urine (urineweginfeksie).
Gevaartekens sluit in duiseligheid, deurmekaarheid, vinnige asemhaling en lae bloeddruk.

Hoe lyk sepsis in Suid-Afrika?
Sepsis lyk wêreldwyd dieselfde – persone met die hoogste risiko vir die ontwikkeling van sepsis sluit in baie jong babas, ouer mense, mense met immuungebreke (MIV, diabetes, chroniese kortisoonbehandeling, kanker, orgaanoorplanting) en mense wat ingrypende chirurgiese prosedures ondergaan het of vreemde materiaal soos kateters en prosteses het.

Omdat SA so baie mense met MIV het (meestal in die openbaregesondheidsektor) asook baie mense in waakeenhede (meestal in die privaat sektor) het, sien ons nogal baie sepsis. Die sterftesyfer is hoog in gevalle van septiese skok of waar die pasiënt nie gou genoeg by mediese hulp kan uitkom vir korrekte behandeling nie.

Kyk die video hier: