Céline Dion gaan haar eerste konsert as weduwee danksy ’n videostroomdiens aan aanhangers wêreldwyd uitsaai om hulle te bedank vir hul ondersteuning toe haar man, René Angélil, in Januarie oorlede is.

Die sangeres sit van Dinsdagaand haar optredes by die Colosseum by Caesars Palace in Las Vegas voort.

En nes met René se begrafnis in Montreal, Kanada, en ’n huldeblykgeleentheid vroeër vandeesmaand sal aanhangers dit aanlyn kan volg.

Die vertoning sal begin met ’n huldeblyk aan René, en aanhangers wêreldwyd sal na dié deel van die konsert kan kyk.

Lees ook: Friends-reünie groot teleurstelling vir lojale aanhangers

Die boodskap oor die stroomdiens op Céline se webtuiste lui: “Sluit op Dinsdag 23 Februarie omstreeks 22:30 aan by die publiek en aanhangers wat haar terugkeer vier en kyk regstreeks na Celine se huldeblyk aan René. Ons gaan op ’n nostalgiese reis.” Die vertoning sal dus Woensdag 05:30 Suid-Afrikaanse tyd regstreeks op haar webtuiste te sien wees.

René het op 14 Januarie sy stryd teen kanker verloor.

Hy is begrawe uit die Notre-Dame-basilika in Montreal, waar hy in 1984 met Celine getrou het.

Celine het aan die begin van Februarie na die Colosseum teruggekeer vir ’n huldeblykbyeenkoms vir René, maar het nie opgetree nie.

Sy het die geleentheid gebruik om die skare en almal te bedank vir hul huldeblyke aan haar wyle man.

Lees ook: Taylor Swift skitter as bruidsmeisie by vriendin se troue

“Dit is my tweede tuiste,” het sy gesê. “Ek is veronderstel om baie tuis te voel, maar ek weet nie op die oomblik hoe gemaklik ek is nie. Ek kan René se liefde in die vertrek aanvoel. Ek voel sy krag en warmte uit elkeen van julle straal. René het my altyd met die beste mense omring wat in ons geglo het en het altyd so hard namens ons gewerk.”

René se kinders uit sy vorige huwelike en sy broer het by die geleentheid by haar aangesluit.

Talle van haar wyle man se vriende in die musiekbedryf en sakevennote, onder wie grootbase van Caesars Palace, het ook hul herinneringe aan die musiekbestuurder gedeel.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com

Zephany Nurse se biologiese ma huil gebroke in hof

Studente van alle rasse bid saam by Tuks

Afrikaanse sangeres sterk aan ná groot knieoperasie

Wat jy alles moet weet oor meningitis-uitbreking op Mosselbaai