Daarin huil die 50-jarige terwyl sy die hartseer toestand van haar lewe beskryf en vertel hoe sy elke dag veg om aan die lewe te bly weens haar voortdurende depressie. 

Die ster, wat in die 1980’s roem verwerf het met haar weergawe van Prince se liedjie Nothing Compares 2 U en 10 ateljeealbums agter haar naam het, het uit haar geboorteland padgegee en woon nou in Amerika. 

“Ek bly nou in ’n Travelodge-motel in die gatkant van New Jersey. Ek is stoksielalleen,” erken sy tranerig in die video van 12 minute. 

“Ek wil hê almal moet weet hoe dit voel, want dit is hoekom ek die video maak. Geestesiekte, dis soos dwelms, dit gee nie ’n duit om wie jy is nie, en eweneens, erger nog, is die stigma, dit gee nie ’n duit om wie jy is nie.

“Skielik behandel al die mense wat veronderstel is om vir jou lief te wees en jou te versorg jou soos vullis. Dis soos ’n heksejag.”

Die video het dadelik vrees onder haar aanhangers laat ontstaan. “Elke aand as ek gaan slaap, bekommer ek my oor jou,” skryf een. ’n Ander een se plasing lui: “Aan Sinead se kinders, gaan help jul ma, sy skree uit na julle almal. Vergeet wat gebeur het en vergewe, hou aan vergewe tot julle daar kom en vir haar ’n druk gee.”

Die ma van vier is openlik oor haar stryd met depressie. Sy het in 2017 aan Oprah gesê bipolêre steurnis is by haar gediagnoseer en sy het op haar 33ste verjaardag haar eie lewe probeer neem.

In 2016 het sy ’n polisiesoektog veroorsaak toe sy nie van ’n fietsrit in ’n voorstad van Chicago teruggekeer het nie. Sy is later veilig in ’n hotel gevind. Ure later het sy op Facebook beweer sy voel “verlate”. 

Die jaar tevore het sy op Facebook gesê sy het ’n oordosis geneem. “Daar is net soveel wat van enige vrou verwag kan word om te verduur . . . Ek het ’n oordosis geneem. Daar is geen ander manier om respek te kry nie. Ek is nie by die huis nie, ek’s in ’n hotel, iewers in Ierland, onder ’n ander naam.” Sy is later veilig gekry. 

Die uitgesproke sangeres het ook al omstredenheid veroorsaak en is bekend daarvoor dat sy tydens ’n verskyning op Saturday Night Live in 1992 ’n foto van pous Johannes Paulus II opgeskeur en verklaar het: “Beveg die ware vyand!”

As jy aan depressie ly of selfdoodgedagtes het, kan jy die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep op hul 24-uur-hulplyn bel by 0800 12 13 14 of ’n SMS stuur na 31393 en hulle sal jou terugbel.

Dit het intussen aan die lig gekom dat sy in die middel van 'n regstryd gewikkel is. Haar vorige bestuurder met wie sy in 'n verhouding was vat haar hof toe vir kontrakbreek en laster.

Waarskuwing: Video bevat kru taal. 

Luister hier na 'n paar van haar treffers:

Bronne: The Telegraph, MailOnline, The Guardian