Soos hierdie rakker met sy motorfiets in Changsha, China. Hy is onlangs op kringtelevisie betrap toe hy met alle mag en mening ’n trapfiets wou steel. Al was die fiets veilig aan ’n taamlik groterige boom vasgemaak.

Dit wil voorkom asof hy ’n stuk kabel as ’n saag teen die arme boom inspan. Kort voor lank takel hy die boom verwoed met energieke saagbewegings.

Eensklaps verander hy van plan en gaan sit weer op sy motorfiets en dit lyk asof hy gereed maak om te ry. Dit is vermoedelik om ’n verbygaande motorfietsryer te flous.

Die motorfiets is skaars uit sig, toe is die man terug by die boom wat binne enkele sekondes die stryd teen die dief verloor.

Vinnig-vinnig lig hy die fiets bo-oor die afgesaagde stomp, maak dit agterop sy motorfiets vas en daar trek hy.

Dit is onbekend of hy later in hegtenis geneem is.