’n Groep inwoners van Soweto het reg in eie hande geneem toe hulle ’n vermeende kitsbank-glyjakkals vastrek.

In ’n rits skokkende video’s kan ’n mens sien hoe die man in ’n rooi Volkswagen Polo vir die groep probeer wegkruip.

Die gemeenskap is duidelik woedend vir die man. Hulle keer sy motor op sy dak en slaan en skop die voorruit uit.

Volgens kol. Vincent Mashiteng, polisiewoordvoerder, is dit nie bekend hoe die vermeende skurk die mense se geld gesteel het nie.

“Niemand het na vore gekom om ’n klag teen die man in te dien nie,” sê hy.

Volgens Vincent het die mense die man by die kitsbank vasgetrek en hom begin aanrand.

“Hy het na die motor gevlug.”

Vincent sê die motor was nie sy eie nie, maar ’n huurmotor. “Daar het die man probeer skuiling vind en is toe deur die gemeenskap oorval.”

Vincent sê die man is by ’n hospitaal vir ligte beserings behandel en het intussen ’n saak van eiendombeskadiging geopen.

Die man is nie in hegtenis geneem nie omdat niemand ’n verklaring afgelê het nie.