“Daar is net geen manier om te beskryf hoe verpletterd ek voel nie. Ek het nie woorde nie,” het Venus tydens ’n mediakonferensie by Wimbledon Maandagmiddag na afloop van haar oorwinning oor Elise Mertens gesê.

Dit was nie die vrae oor haar oorwinning nie, maar wel die vrae wat aan haar gestel is oor die noodlottige ongeluk waarby sy betrokke was, wat haar geweldig ontstel het. 

Sy was sigbaar emosioneel en het dit moeilik gevind om haarself uit te druk. Haar reaksie het uit lang stiltes bestaan en daar kan ook gesien word hoe sy begin om trane weg te vee.

Die media is versoek om haar ’n minuut te gee om te herstel maar Venus kon egter nie daarin slaag om haar emosionele ewewig te herwin nie. Haar versoek om die konferensie te verlaat, word goedgekeur. 

Venus het vroeër tydens dieselfde mediakonferensie gesê jy kan nie vir alles in die lewe voorberei nie.

“Ek berei vir baie wedstryde voor, probeer om gereed te wees vir wat my opponent ookal na my kant toe kan gooi, maar jy kan nie vir alles voorberei nie.”

Venus, wat reeds vyf keer die Wimbledon-kampioen was, het haar eerste ronde-wedstryd in vanjaar se Wimbledon-kampioenskap teen Elise Mertens van België in skoon stelle gewen.

Meer oor die ongeluk

Op 1 Julie het Venus op haar Facebook-blad gesê sy voel verpletterd en gebroke vanweë die ongeluk. Sy spreek ook haar innige simpatie met Jerome Barson se familie en vriende uit.

Volgens die polisieverslag het Venus op 9 Junie met haar 2010 Toyota Sequoia SUV teen ’n geraamde spoed van 8 km per uur beweeg toe die ongeluk plaasgevind het. Dwelm- of alkoholgebruik het glo nie ’n rol gespeel nie.   

Linda Barson het met haar 2016 Hyundai Accent teen die sykant van Venus se voertuig gebots. Jerome Barson (78), wat ten tye van die ongeluk ’n passasier in sy vrou se voertuig was, het twee weke later aan sy beserings gesterf.

Intussen het dit bekend geword dat Jerome se famllie ’n saak van strafbare manslag teen Venus aanhangig gemaak.

’n Onbekende bedrag word na bewering geëis vir die verlies aan kameraadskap deur vir Jerome se vrou en sy familie, verlies aan inkomste, pyn en lyding, mediese en begrafniskoste.

Jerome en Linda was vir langer as 33 jaar getroud. Hy het op haar 68ste verjaardag gesterf.

Bronne: cnn.com, time.com, irishtimes.com, nypost.com