’n Kat het mos nege lewens. Wel, Braille, die weggooikatjie wat albei haar oë verloor het weens verwaarlosing, se vasbeslotenheid om een van daardie lewens op te eis, is ’n inspirasie-sensasie in die kuberruim.

Haar gruwel-gesiggie kan kinders dalk nagmerries gee, maar haar eienaars, die paartjie Erin Signor (22) en Sara Konnecke (25), spog met alte graag haar op Instagram en Facebook.

Sy het ’n “baken van hoop” vir mense en diere met gestremdhede geword, koer dié trotse ouers oor hul pleegkind wat nou permanent by hulle in Philadelphia gaan woon.

Die katjie is verlede maand op vyf weke verlate gevind en na dié Amerikaanse stad se afdeling vir dierebeheer en -versorging (ACCT) gebring.

Sy was net ’n paar weke oud maar in ’n skokkende toestand: sy het gesukkel om asem te haal weens ’n infeksie wat ook veroorsaak het dat een van haar ogies toe was en die ander een uit die oogkas uitgedruk is. Hulle het oorweeg om haar uit te sit.

Maar Sara, wat vir ACCT werk, het besluit om haar huis toe te neem om te kyk of sy nie tog gered kon word nie.

Hulle moes kompresse op haar oë sit en dit elke vier uur uitspoel met ’n soutoplossing en oogdruppels. Ook moes hulle twee keer per dag medisyne toedien.

“Dit was so pynlik en moeilik vir haar om te eet en asem te haal, en sy het die eerste drie of vier dae gedurig gebewe,” onthou Erin. Dit was vir die paartjie ook moeilik om te aanskou.

“Ek het gehuil oor hoe traag en ontsteld die arme katjies was. Ons het werklik nie geweet of sy gaan oorleef nie,” voeg Erin by.

“Maar Sara het my gepaai dat sy al katjies in ’n erger toestand sien oorleef het,” het Sara aan HuffPost vertel.

Op die oud end moes albei haar oë verwyder word sodat die ontsteking nie kon versprei nie. Nadat sy toegewerk is, lyk sy soos iets uit ’n Gremlin-fliek, maar haar aanhangers neem daagliks toe.

“Toe ons haar terugvat huis toe, het sy begin spin. Dis asof ons ’n nuwe katjie in ons midde het,” sê Erin. “Haar skattige persoonlikheid het teruggekeer.”

Selfs sonder oë is sy spelerig.

“Gelukkig het ons nog geen afbrekende kommentaar of reaksie gehad oor hoe sy lyk nie . . . Ons hoop regtig Braille se storie gee alle mense hoop.”

Nadat sy herstel het, sou sy moes gewag het om aangeneem te word, maar Erin en Sara het besluit om haar te hou.

Sara sê: “Sy is ons s’n – vir seker.”

Bronne: huffingtonpost.com, hottopics.tv, dailymail.co.uk, lovemeow.com, thebestcatpage.com