Die operasie op klein Phalo Gayiya word vanaand (Dinsdag) net op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

[caption id="attachment_132578" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

’n Spesiale aflewering van die werklikheidsprogram Ure word om 17:00 en weer om 20:00 uitgesaai en sal die voorbereidings vir en uitvoering van dié operasie deur Susan Vosloo wys.

In die aanloop van die verfilming van die program het ’n ware lewensdrama hom afgespeel. “Phalo Gayiya se hart was vinnig besig om te verswak. Niemand het geweet hoe lank hy nog sal kan leef nie; net ’n hartoorplanting kon sy lewe red. Toe kry sy familie die nuus: Daar is ’n skenker. Phalo kry ’n hart,” het Pieter de Vos, vervaardiger van Ure vertel.

[caption id="attachment_132579" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Die stryd teen tyd het landwyd belangstelling ontlok. Sy ouers het vroegoggend gehoor daar is ’n moontlike skenker, maar Phalo was op De Doorns, die hospitaal in Kaapstad en die hart steeds in Johannesburg. Die Gayiyas het met Phalo Kaap toe gejaag, terwyl die oorplantingspan in die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal met voorbereidings begin en die hartchirurg in Gauteng die skenkerhart begin verwyder het.

“Ek het al hartoorplantings beleef, maar dit was seker een van die grootste ervarings van my lewe. Om Susan te sien werk, haar presiesheid, was ongelooflik,” vertel regisseur, Jan Groenewald.

Nou kan kykers al die drama beleef soos dit afgespeel het. Die kameras was heeltyd teenwoordig, selfs toe nog komplikasies die dokters in die Kaap laat asem ophou het.

Dié dubbele aflewering van Ure beloof om kykers deurentyd te boei. Skakel om 17:00 of 20:00 in op VIA op DStv-kanaal 147 en maak seker jy loop dit nie mis nie.